WANNEER hulle deur die strate van Hankey stap, drentel kinders agterna asof hulle die rottevanger van Hamelin is – maar dit is hul kletsrym-kwinkslae wat lok, eerder as ’n fluit.
Híér word plaaslike kletsrymers (rappers) Elvino Fortuin (24), Nolan de Klerk (21) en Jadrian Prinsloo (18) soos helde verwelkom.
“Gaan julle vir ons rap?” roep die kinders na hulle.
Natuurlik.
Oomblikke later hang húlle – en grootmense – aan die jongmanne se lippe, terwyl hulle teen ’n asemrowende tempo Afrikaanse en Engelse woorde uitryg.
Als met positiewe boodskap.
Dit is dié talent wat die driemanskap – be-kend as Strings (Straat Talente Rym Intensiewe Notas Geen Speletjies) – einde verlede jaar as wenners uit die stryd vir die beste liedjie by die Tshisa-kompetisie laat tree het.
Slegs maande later, volg hul debuutalbum Afkoel Kallit – moontlik gemaak deur die prysgeld van R10 000.
Al tien liedjies op die album is deur die groep self geskryf – slegs ’n handvol van die liedjies wat hulle al reeds geskryf het.
Strings is tans besig met hulle eerste mu- siekvideo wat binnekort op sosiale media be-skikbaar sal wees.
Hoe sal hulle hul musiek beskryf? Soft rap. Headphone music: daar moet na die woorde geluister word.
Fortuin sê: “Ons maak musiek wat ons graag self wil hoor. En hopelik sal aanhangers ook aanklank daarby vind.
“Die stories wat ons deur rap in die liedjies vertel, is wat ons self deurgemaak het, van ons mense en ons omstandighede en van dinge wat vir ons saak maak.
“Ons hou ons weg van die vloekery af, al is dit mos maar eie aan rap. Ons gebruik Afrikaans en Engels – die taal wat ons hier praat en die woorde wat ons hier gebruik.”
Hulle glo oud en jonk kan saam na hulle musiek luister. En dit sal vir baie ’n verrassing wees.
Al is die groep nog nie so bekend in Kouga en omliggende gebiede nie, ken die leerders van Hankey hulle goed.
As hulle na skole gaan, sing die leerders hul liedjies hartlik saam – en selfs van die onderwysers skreeu hulle naam.
Watter boodskap wil hulle met die album oordra?
“Moenie dat jou omstandighede jou drome negatief beïnvloed nie,” sê Fortuin. “Gebruik wat jy het en werk hard.
“Ken jou waarde.”
Meer inligting
Die CD kos R150.
Vir meer inligting, skakel Sunitha Oosthuizen by 078 381 0134 of Elvino Fortuin by 084 536 5336.
Stuur ’n epos na StringsCapital@outlook.com of besoek hul Facebook-blad, Stringscapitalec.