’n SAKEMAN van Humansdorp wat aan crimen injuria en aanranding skuldig bevind is, is effektiewelik ’n vonnis van ses maande tronkstraf of ’n boete van R3 000 opgelê.
Pfeifer van Onselen, ’n trustee van ’n winkel vir gebruikte goedere in Humansdorp in die Oos-Kaap, is in Junie skuldig bevind. Die landdroshof in Humansdorp het verlede Woensdag die twee aanklagte vir vonnisdoel-eindes saamgevoeg en hom tot ’n boete van R6 000 of 12 maande tronkstraf gevonnis.
Volgens Cameron Rooy, staatsaanklaer, is die vonnis met die helfte opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat Van Onselen in dié tydperk nie weer skuldig bevind word aan ’n soortgelyke misdryf nie.
Elgin Maghienda, die klaer in die saak, het egter sy ontevredenheid oor die vonnis uitge-spreek en meen dié straf sal hom nie weerhou van soortgelyke optrede in die toekoms nie.
“Die rassistiese aanmerking alleen verg ’n swaarder straf,” het Maghienda gesê.
Volgens hom spruit die hofsaak uit ’n voorval op 16 Desember 2016 toe hy gebruikte slotte by die winkel wou koop.
By die betaalpunt het Maghienda die prys van die slotte bevraagteken, wat daartoe gelei het dat die kassiere vir Van Onselen geroep het om die prys te bevestig.
“Toe ek hoor wat die prys werklik is, het ek gesê ek gaan dit los en eerder nuut gaan koop.
“Dit is toe dat hy sê ‘julle (k-woord) wil alles verniet hê’ en ek het daarop dadelik aan hom gesê ‘f*k jou, jy praat nie so met my nie’.”
’n Verdere woordewisseling het glo gevolg, waarna Maghienda beweer hy het toe by die winkel uitgestap.
Maar kort voordat hy uitgestap het, is hy deur Van Onselen met ’n knopkierie oor die kop geslaan.
’n Bakleiery het ontstaan en omstanders het die twee mans uitmekaargetrek.
Maghienda sê hy het direk daarna die voorval by die polisie aangemeld.
Sy wond weens die knopkierie-aanranding het volgens Maghienda nie gebloei nie, maar wel ’n groot swelsel op sy kop veroorsaak.
Hy meen daarbenewens was die hele voorval vernederend vir hom en daarom voel hy nie die vonnis is gepas nie.