Schroeder-moord: verhoor sloer vier jaar

ENIGE verdere uitstelle in die verhoor van die moord op Claus Schroeder, ’n sakeman van Jeffreysbaai, sal met ’n amptelike aansoek in die hof beslis word.


ENIGE verdere uitstelle in die verhoor van die moord op Claus Schroeder, ’n sakeman van Jeffreysbaai, sal met ’n amptelike aansoek in die hof beslis word.

Dit volg nadat adv. Marius Stander, staatsaanklaer, verlede Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth sy voet dwars gesit het vir verdere versoeke van die verdediging vir ’n uitsteldatum.

Die verhoor sloer al vier jaar.

In Maart het die verhoor in die pylvak ’n terugslag gekry toe Jens Leunberg, ’n Duitse burger en een van die moordbeskuldigdes, sy regsverteenwoordiger, Danie Gouws, afgedank het.

Dit het gebeur terwyl die onderskeie regsverteenwoordigers gereed gemaak het om hul slotbetoë in die saak te lewer.

Regter Thembekile Malusi het Gouws gevra om sy slotbetoë af te handel en só die “vrugte van sy arbeid” in die saak by die hof in te handig.

Hoewel Gouws ingestem het om dit te doen, het Leunberg blykbaar planne om verdere getuienis in die saak te lei.

Leunberg en sy voormalige lewensmaat, Kristina Adler, is reeds agt jaar gelede aangekeer en aangekla van die moord op Schroeder. Hy het op 14 Augustus 2009 in raaiselagtige omstandighede van sy plaas in Thornhill net buite Jeffreysbaai verdwyn.

Die beskuldiges word daarvan verdink dat hulle Schroeder met miljoene rande wou bedrieg deur met vervalste finansiële dokumente sy plaas in Thornhill te koop.

Die staat voer aan hulle het Schroeder vermoor toe hy van die bedrogspul uitgevind en hulle daar-oor gekonfronteer het.

Schroeder se lyk is ná al die jare egter nog nie gevind nie.

Leunberg het adv. Richard Crompton intussen as sy regsverteenwoordiger aangestel, maar het met verskeie hofsittings om verdere uitstel gevra.

Stander het Donderdag aan Malusi gesê dat hy nie bereid is om die saak verder te laat sloer nie en voortaan enige versoek vir ’n uitstel sal teen-staan.

Crompton het gesê dat hulle vir verdere uitstel sal aansoek doen.

Die saak is tot 20 September uitgestel vir betoë om in die hof gelewer te word.

You need to be Logged In to leave a comment.