Scott gou op die been na projek om hom te help

HY imponeer deur fluks en doeltreffend sy werk by Caltex Wavelands se brandstofpompe te verrig.


HY imponeer deur fluks en doeltreffend sy werk by Caltex Wavelands se brandstofpompe te verrig.

Die verskil is: tot dusver was dit op krukke, want Scott Botanile het net een been.

Maar Mike Minnie en Unbroken Amputees Foundation is besig om die man se lewe te verander, saam met mede-amputee Karen Swanepoel en orthotis Ruan Lundt van Port Elizabeth.

Mike het ‘n projek van meelewing van stapel gestuur nadat hy van Scott gehoor het. Vroeër vanjaar het die Kouga Express een middag saam met Mike, Elsie Briedenhann en Kouga-raadslid Daniël Benson gekuier.

Mike is in daardie stadium deur die dorp as deel van ‘n staptog deur die land om fondse in te samel vir prosteses vir mense wat ledemate verloor het

Scott is uitgenooi nadat Jakkie Pieterse, in beheer van die rolstoelprojek, aan Elsie van die uitsonderlike geval vertel het. Op haar beurt vertel sy die verhaal aan Mike.

Hier het Mike onderneem om vir Scott te help om letterlik op die been te kom.

Scott het sy been verloor nadat hy met inflammasie gediagnoseer is, en medici voor-gestel het dat amputasie die enigste uitweg is. Ondanks die terugslag, is Scott op sy pos, hard aan die werk.

“Iemand, soos Scott, wat ’n ledemaat verloor het, moet aangemoedig en bemagtig word, want dit bring selfvertroue en sal sy lewensgehalte radikaal verbeter”, het Mike die saak toe al motiveer.

Elkeen verdien die kans en vryheid om mobiel te wees.

Mike het by Unbroken Amputees aangeklop, en hulle het aan die werk gespring om Ruan in te roep om ‘n afgietsel te maak.

Karen het die stuk terug na Pretoria geneem waar ‘n been vir Scott gemaak gaan word.

You need to be Logged In to leave a comment.