Dink net: 60 jaar gelede het jy matriek geskryf en vandag kuier jy saam met jou matriekmaats.
’n Paar oud-matrieks uit die jaar 1962 van die Hoërskool Nico Malan (toe nog bekend as Humansdorp Hoërskool) op Humansdorp kon middel-Augustus 2022 dié voorreg smaak toe 13 van hulle hul 60-jarige matriek reünie op die gasteplaas TweeWaters naby Patensie gehou het. Die gasteplaas behoort aan die destydse hoofmeisie, Kenau en haar man Gerhard Scheepers.
Sommige van die ou matrieks het van die Strand, Stellenbosch en Oudtshoorn gekom, terwyl die ander van die Gqeberha en Jeffreysbaai omgewing was. Die viering het begin met ’n vleisbraai by die gastehuis. Saterdag is die saamkuier voortgesit met ’n “noenbyt” by die Padlangs stalletjie daar naby.
Tydens die reünie het die huidige hoof van Nico Malan, Frans Lötz, en een van die trustees van die Nico Malan Ondersteuningstrust, Rupert Gerber, vertel van die ontwikkeling by die skool en die beplanning vir die toekoms, onder meer dat daar ’n groot reünie vir 2023 beplan word.
“Dit sal wees om die 60-jarige bestaan van Nico Malan te vier,” verduidelik Japie Williams, een van 1962 se matrieks wat ook by die afgelope reünie was.
“Weens COVID kon die sestigjaar-fees nie in 2020 gehou word nie en die reünie en feesvierings is uitge-stel na volgende jaar. Terselfdertyd sal daar ’n interskole byeenkoms wees waar Nico Malan teen Hoërskool Framesby sal rugby speel.
“Die skool was vroeër bekend as die Humansdorp Hoërskool, maar die naam is in 1960 met die inwyding van die nuwe skoolgebou verander. Die skool is toe vernoem na die vroeëre administrateur van die destydse Kaapland,” sê Williams.