Ruan Thomas by St. George-park in Gqeberha saam met van sy kinders.
Lede van die Thomas-gesin. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – ’n Persoonlike stryd teen siekte het ontwikkel in ’n gemeenskapsverhaal van hoop, gesondheid en sport toe Ruan Thomas in 2023 die Jeffreysbaai Krieketklub begin het.

Dit was ’n donker tyd in sy lewe wat hom uiteindelik gelei het na ’n nuwe roeping – krieket.

Hy het besluit om op te staan en die lewe in die oë te kyk.

Ruan, wat vandag die voorsitter van die klub is, het in September 2022 skielik ernstig siek geword toe hy met rumatiek-koors gediagnoseer is.

Vier maande lank was hy bedlêend en afhanklik van sy vrou wat hom in ’n rolstoel moes rondbeweeg.

“Ek kon niks vir myself doen nie, maar ek het geveg – vir my vrou en kinders.”

Toe hy weer kon begin beweeg, het hy ’n besluit geneem wat sy lewe en dié van baie ander sou verander: die stigting van die JayBay-klub.

Die klub is gebou op ’n eenvoudige maar kragtige beginsel – en dit is dat enigeen welkom is om te speel, ongeag ouderdom of vaardigheid.

Aanvanklik het die span net in die besigheidsliga by Heatherbank in die Baai deelgeneem, maar die klub het vinnig gegroei.

Na twee jaar het die Jeffreysbaai Krieketklub saamgesmelt met die Mentors-klub, wat nog meer geleenthede vir plaaslike spelers geskep het. Vandag is die klub ’n spilpunt van sport en gemeenskapsamewerking op die dorp.

Ruan Thomas by St. George-park in Gqeberha saam met van sy kinders.
Ruan Thomas is sedert sy siekte ‘n groot krieketondersteuner. Hier is hy by St. George-park in Gqeberha saam met van sy kinders, Skyler (13), Jordan (12) en Justin (12). Die gesin het ook nog ‘n seun en twee dogters. Foto: Verskaf

Verlede jaar het die klub ’n groot mylpaal bereik toe hulle deelgeneem het aan die 121ste jaarlikse en gewilde pynappel-toernooi wat op Port Alfred en Bathurst gehou word.

Die toernooi is een van die oudste en mees gesogte krieketbyeenkomste in die land, en deelname is net moontlik met ’n skriftelike uitnodiging.

“Dit is vir my ’n uitsonderlike prestasie dat ons klub só gegroei het dat ons genooi is om deel te neem.

“Dis nie enige klub wat dié geleentheid kry nie,” sê Ruan trots.

Die span is weer vanjaar genooi en sal van 10 tot 15 Maart op toer wees. Vir Ruan en sy spelers is dit nie net ’n sportgeleentheid nie, maar ’n bewys van hoe ver hulle gekom het en watter verskil hulle in mense se lewens kon maak.

Hy sê egter dat borgskappe nodig sal wees vir die toer wat na raming R60,000 sal kos vir verblyf, vervoer, kos, brandstof en ander uitgawes.

Ruan doen ’n beroep op die gemeenskap en besighede om die klub te ondersteun.

“Enige hulp – of dit finansieël, kos, brandstof of ander bydraes is – sal baie waardeer word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article