LIGTRAP en versigtig loop, want ssssslange doen al meer gereelde huisbesoek.
Dit is egter nie ’n geval dat slange nou meer dikwels van oral af in plekke inseil waar hulle nie welkom is nie. Die kanse is net groter dat inwoners, wat ingehok is, slange nou meer teëkom.
Sarel Breytenbach (31), slangkenner en bewaringsman van Jeffreysbaai, kan deesdae skaars voorbly soos benoude Kouga-inwo-ners hom vra om slange uit hul tuine, huise en ondernemings te kom verwyder.
Hy het die afgelope week nagenoeg 45 slange in woonbuurte gevang.
Verlede Donderdag moes hy ’n pofadder tussen dakteëls van ’n huis in Wavecrest in Jeffreysbaai uithaal. Daarna moes hy `n tamaaie Kaapse kobra in Humansdorp aankeer.
Met die slang gevang, moes hy dieselfde dag ook ’n rinkhals in die oë kyk.
Volgens Breytenbach, die stigter en eienaar van Kouga Snakes ID and Removals sedert Januarie 2019, het hy die afgelope jaar meer as ‘n 1 000 slange regoor Kouga en Kareedouw verwyder.
’n Taak wat hy binne vyf minute afhandel.
Elke slang gaan vir ’n twee-week rehabilitasie periode saam met hom huis toe waar hy seker maak ta het geen beserings opgedoen nie – eers dan word hulle 3km buite Jeffreysbbaai in die veld losgelaat.
Oor die afgelope twee jaar is hy net 20 keer gepik – gelukkig nie deur ’n dodelike slang nie.
Hy lag: “Hoewel dié gevaar deel van die werk is, probeer jy om nié gepik te word nie.
“Dit is belangrik om die slang se lyftaal te lees en te verstaan.”
Gevaarlikste kalante
Breytenbach waarsku: “Die twee gevaarlikste kalante wat jy dalk op jou voorstoep kan raakloop, is die pofadder en die boomslang. Nommer drie is die Kaapse kobra gevolg deur die rinkhals (spoeg-kobra). Dan is daar ook die nagadder.
“Onskadelike slange sluit in: die groen waterslang, gespikkelde molslang en bruin huis-slang wat volop in Suid-Afrika voorkom, asook die gespikkelde skaapsteker en rooilippie. Laasgenoemde kom volop in tuine voor, veral as dit reën. Dié slang, wie se stapelvoedsel paddas is, is matig giftig en pyn kan na ’n byt voorkom.”
Die slangman is ’n geregistreerde lid van Cape Snake Conservation en Africa Snake Bite Institute, en werk nóú saam met die Kouga-munisipaliteit en dierebeskermingsvereniging in Humansdorp.
Kén jou slange
“Ek het al baie oproepe gekry van ‘daar is ’n boomslang in my huis!’ dan was dit nooit een nie,” sê Breytenbach. “Die boomslang wat hier voorkom, is geel en swart (mannetjies) en bruin (wyfies) – en nie groen nie.
“Dit is belangrik dat mense die regte slange kan identifiseer, veral wanneer iemand gepik is – dit sal die behandeling van die pasiënt bepaal en die verskil tussen lewe en dood kan maak.
“Neem ’n foto met jou kamera of selfoon van die slang. Indien dit nie moontlik is nie, let op die verskillende simptome. Die pofadder bevat bv sitotoksiese gif, terwyl die Kaapse kobra neurotoksiese gif bevat en die boomslang hemotoksiese gif.” Elke soort gif het ‘n ander uitwerking en veroorsaak verskillende simptome.
Ander kenmerke sluit in: kleur, vorm van die kop (hoe meer diamantvormig die kop, hoe meer gevaarlik is die slang), lengte, dikte en omgewing waar die slang voorkom.
Breytenbach waarsku inwoners om nie eie behandeling toe te pas nie, maar reguit hospitaal toe te gaan. “Moenie ’n drukverband aanwend of die vel sny om die gif te probeer uitsuig nie.”
Help red die slange
Sy dringende versoek aan diegene wat slange in hul huise, tuine, kantore, winkels of fabrieke vind, is om nie dié kosbare skakel in die ekostelsel op ’n instinktiewe manier te verbrysel nie.
Iets wat hom summier omkrap.
“Mense, wat vir slange bang is, is bang weens onkunde,” sê Breytenbach wat meen mense maak slange te maklik dood.
“Neem ’n foto, stuur dit na my of enige ander slangvanger, probeer dit in ’n kamer toemaak of bly dit dophou totdat ons dit veilig kan kom verwyder,” sê Breytenbach.
Meer inligting
Vir meer ingligting oor die werk wat Breytenbach doen, gaan loer op sy Facebook-blad (Kouga Snake ID and Removals) of ska-kel hom by 076 852 5697. Laai ook die gratis African Snakebite Institution applikasie af.
1. Neurotoksien
tas die senuweestelsel aan en verlam die spierstelsel – ook die borskasspiere sodat jy nie kan asemhaal nie en kan sterf. Na so `n pik het jy dringend asemhalinghulp nodig, waarvoor die hospitaal die beste plek is. Van die eerste tekens van `n neurotoksien is dat die persoon tipies sleeptong praat, kwyl en moeilik sluk.
2. Sitotoksien
vernietig die weefsel en veroorsaak geweldige pyn. Die bytplek en hele ledemaat swel erg, en die aangetaste dele kan daarna afsterf. Gaan dringend hospitaal toe.
3. Hemotoksien
tas die bloedstelsel aan. Die bytplek bloei tipies. Soos die gif saam met die bloedstroom versprei, veroorsaak dit van ligte tot erge – en potensiële dodelike – inwendige bloeding.