HULLE sit kop omlaag by die groot tafel in die klaskamer aan die einde van die lang gang – handgemaakte patrone, ’n skêr, speldekussings, ’n maatband en helderrooi materiaal lê voor hulle.
Die een fynbeplande steek na die ander volg . . . moeilik vir die ongeoefende oog om te volg.
Gesoute naaldwerkhande Rachel Koopman en Lizette Buckle woel en werskaf al sedert hul laerskoolde agter die naaimasjien, nou, dekades later, ploeg hulle hul kennis en pas-sie terug in een van Kouga se enigste naaldwerkklasse en -projekte vir jong leerders by King’s College in Jeffreysbaai.
Met groot sukses.
By Kings’s College word nie net knope aangewerk, lappies omgewerk en some inge-sit nie. Híér word skooluniforms gemaak: hemp, skort (’n kombinasie van ’n kortbroek en romp) en sweetpak. En deftige aandrokke.
Elke steek perfek.
Die rede?
“Elke kind is besonders. Elkeen het ’n doel op aarde. Nie almal kan akademies uitblink nie – daarom die naaldwerkklasse,” sê King’s College skoolhoof Soria Swart terwyl sy oor die patrone voor haar vee.
“Dit is belangrik om vir die leerders ’n vaardigheid aan te leer waaruit hulle eendag ’n bestaan kan maak – dalk hul eie besigheid begin.”
Naaldwerk
Maar waar het dit begin?
By ’n na-skoolse naaldwerkprojek wat sedertdien sy begin vyf jaar terug uit sy nate bars. Díé projek is oop vir alle leerders – mits hulle in naaldwerk belangstel.
“Ons het gesien hoeveel voordeel leerders uit die projek trek en, meer belangrik, hoe die fynere kunsies van onder meer geldbestuur, stik, hekel en borduur hulle bemagtig,” sê Swart.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe die kinders se selfvertroue ontwikkel.
“Daar is besluit om naaldwerk as ’n volwaardige vak vir graad 4 en graad 5-leerders aan te bied, asook om dit deel van ons beroepsonderrigprogram te maak.”
Terwyl die graad 4 en 5-leerders die basiese tegnieke van naaldwerk aanleer en met die maak van die uniforms help, leer die handjie-vol uitgesoekte beroepsonderrig-leerders hoe om met geld te werk en om klere te maak – van ’n kortbroek tot ’n aandrok.
Buckle vertel trots: “Dié leerders begin deur hul eie mates te neem voor hulle ’n ba-siese patroon ontwerp en uitsny. Dan volg die maak van ’n skort en uiteindelik ’n glansryke aandrok op ’n naaimasjien – ’n eerste vir die leerders.
“Hulle help verder met die maak van die uniform vir die skool.
“Dié beroepsgerigte vaardighede moedig leerders aan om hul unieke aanleg te ontdek en dit ten volle te ontwikkel. Ons wil hulle deur die klasse bemagtig en in staat stel om later vir hulsef geld te genereer. Dalk kan hulle eendag klere vir Parys se modeskoue ontwerp.
“’n Mens moet mos groot droom.”
Toerusting
Dit alles ten spyte van ’n tekort aan toerus-ting – Koopman en Buckle gebruik hul eie naaimasjien om die kinders te leer. En ’n houtplank word as ’n lininaal ingespan.
Donasies van enige naaldwerktoerusting en -materiaal is welkom.
Vir meer inligting, skakel King’s College by 042082 684 4350.