Skoolhoof wil ’n verskil maak

SY is lief vir kinders, passievol oor die onderwys en doelgerig in haar benadering.


SY is lief vir kinders, passievol oor die onderwys en doelgerig in haar benadering.

En kan beslis haar man staan.

Olive du Plessis (44) het op 16 Julie, vanjaar die leisels as skoolhoof van die Hoërskool Paul Sauer in Kareedouw by Manie Smit oorgeneem.

Sy is die eerste vrou sedert 1912 om dié pos daarvte beklee – ’n jarelange-droom, al maak dit haar soms bang.

Hoewel nie ’n kleintyd-droom nie, lê onderwys diep in haar hart. Toe sy vir die eerste keer voor haar eie klas gestaan het, het sy geweet dit is waar sy moet wees – ’n beter beroep kon sy nie kies nie.

Du Plessis glo dat die Vader mense en situasies oor haar pad gestuur het om haar die moed te gee om die uitdaging aan te pak en ’n verskil te maak.

Du Plessis, wat die afgelope 19 jaar ononderbroke by onderwys betrokke is, sê: “Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om deel van hierdie skool te wees. Ek kan net op my knieë bly vir die wysheid om die taak met nederigheid te voltooi.”

Visie

Dit is haar visie as hoof van Paul Sauer om verantwoordbare, opvoedende onderwys aan leerlinge te bied vir optimale ontwikkeling van elkeen se Godgegewe potensiaal. En om ’n verskil in elke leerder se lewe te maak: om heel en gesonde graad 12-leerders die wêreld in te stuur.

“Elke leerder moet sy eie waarde besef en weet dat hulle ’n waardevolle verandering in die plaaslike gemeenskap en land kan teweegbring – deur net hulself te wees,” sê sy.

Die bevordering en uitleef van waardes is ook hoog op haar prioriteitslys, asook dankbaarheid in elke leerder se hart. Dankbaarheid vir geleenthede. Dankbaarheid vir me-kaar. En dankbaarheid vir elke nuwe dag.

“Met die genade van Bo en almal se gebede en ondersteuning, vertrou ek om ’n verskil te maak,” sê sy.

Droom groot

Haar groot droom?

“As ek ’n towerstaf gehad het: dat die skool al die kinders van die omgewing kan akkommodeer en dat die skool multi-dissiplinêre kan wees – ’n gesonde balans tussen akademie, vaardighede, sport en kultuur.

Olive du Plessis

Du Plessis beskik oor ’n Hoër Onderwys Diploma aan die Universiteit van Pretoria.

Haar eerste onderwyspos was in Pretoria.

In 2007 het Du Plessis na Kareedouw verhuis waar sy die pos as Wiskundige Geletterdheid-onderwser by Paul Sauer beklee het. Elf jaar later is sy tot departementshoof bevorder, waarna sy in 2018 as adjunkhoof by die skool aangestel is voordat sy in 2019 die leisels as skoolhoof oorgeneem het.

Du Plessis sê sy is trots daarop dat sy Paul Sauer – ’n tuiste vir 420 leerders vanaf graad R tot graad 12 – die laaste paar jaar kon help vestig as een van die voorste skole in die streek.

You need to be Logged In to leave a comment.