Paulet-huis in Somerset-Oos.

Foto: www.jgf.org.za

As jy ’n skrywer is en die alledaagse beuselagtighede van die lewe jou skrywery kortwiek is ’n verblyf in ’n ouwêreldse woonhuis met ruim kamers en pragtige houtvloere net die geleentheid wat jy benodig om weer jou muse te vind.

Boonop word dié geleentheid in Somerset-Oos, ’n skilderagtige Karoo-dorp aan die voet van die Bosberg, aangebied waar skrywers al die afgelope paar jaar vir kort tydperke gaan woon om aan hulle projekte te werk.

Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) in vennoot-skap met PEN Afrikaans en PEN South Africa Residency bied vanjaar vir die vyfde keer die jaarlikse “Ononderbroke Tyd om te Skryf” residensie-program daar aan.

Alle skrywers word uitgenooi om aansoek te doen vir die drie weke verblyf in die 200 jaar oue Paulet-huis met hope spasie wat omring is met lowerryke tuine waar die kreatiwiteit behoorlik sal kan vloei.

Ses skrywers sal gedurende die wintermaande die uitsonderlike geleentheid kry om daar te gaan skryf sonder om hulle oor die alledaagse gang van die lewe te bekommer.

Behalwe vir die huis in sy pragtige omgewing is daar ook die historiese dorp wat omring is met asemrowende natuurskoon wat as inspirasie vir die skrywers sal kan dien.

Die skrywers wat daarvoor gekies word sal ’n retoer-vliegtuigkaartjie na Gqeberha ontvang (indien nodig) wat vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos sal insluit.

By die Paulet-huis sal ’n gerieflike gemeubileerde kamer met ’n pragtige uitsig op hulle wag wat alle skoonmaakdienste insluit.

Daar sal ook toegang tot verskeie ander vertrekke wees waar skrywers ongesteurd sal kan sit en skryf.

Heerlike etes sal daagliks deur die JGS se inwonende kok vir hulle voorberei word.

Onbeperkte internettoegang sal verseker dat die skrywers wel met die buitewêreld in aanraking sal kan bly en hulle navorsing sal kan doen.

Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die legendariese nalatenskap van die ontslape prof. Jakes Gerwel en stel hulle ten doel om Suid-Afrikaanse literatuur oor die algemeen bekend te stel, veral Afrikaans waarin prof. Gerwel gespesialiseer het.

Gerwel is in 1946 op ’n plaas buite Somerset-Oos gebore.

Later het hy hom onder andere bekwaam as ’n professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) waar hy ook die dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte geword het.

Hy was ook kanselier van die Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap, ere-professor in geestes-wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria en ook uitgelese professor en bekleër van die Nelson Mandela-leerstoel in Geesteswetenskappe aan die UWK.

Gedurende Nelson Mandela se tydperk as president het Gerwel die land as direkteur-generaal van die Presidensie gedien.

Hy het ’n groot rol gespeel in die dikwels vurige onderhandelinge gedurende Suid-Afrika se oorskakeling van apartheid na ’n demokratiese land.

Na Gerwel se afsterwe in 2013 het sy vrou Phoebe Gerwel die JGS ter ere aan haar man gestig en het sy in 2018 die Paulet-huis wat eens die familiehuis was, aan die JGS geskenk en gevra dat die huis tot voordeel van die gemeenskap gebruik moet word.

Deur die JGS word veral daar op gefokus om Suid-Afrikaanse literatuur te verryk en bystand te bied op nuwe perspektiewe en die deel van nuwe ondervindinge.

Jong opkomende skrywers

Die ondersteuning van jong opkomende skrywers met nuwe “stemme” is van groot belang en hopelik sal jong mense gemotiveer word om meer te lees en sodoende sal geletterdheid ook bevorder word.

Die Stigting is veral trots op hul vennootskap met twee dinamiese sentrums onder die meer as 140 sentrums van PEN Internasionaal wêreldwyd: PEN Afrikaans en PEN South Africa.

PEN Internasionaal word as ’n wêreldleier op die gebied van menseregte gesien en ondersteun vryheid van spraak, bevorder letterkunde en beskerm skrywers.

Die aansoek vir die JGS se residensie-program in die taal waarin geskryf word moet die volgende insluit: Bevestiging van lidmaat-skap aan PEN Afrikaans of PEN South Africa vergesel met ’n motiveringsbrief; ’n Oorsig van jou skrywersloopbaan tesame met ’n lys van publikasies; Een bladsy wat jou skryfpro-ses vir die residensie uiteen sit; Uittreksel uit die nuwe projekte; fiksie of nie-fiksie (10 tot 15 blaaie), gedigte (6 -10 gedigte), verhoog -of filmdraaiboeke (12 blaaie); ’n Brief van ’n uitgewer wat daarin sal belangstel om jou werk te publiseer sal ook in jou guns tel.

Die doel van die bogenoemde vereistes is om te verseker dat die skrywer wat vir die residensie-program gekies word wel produktief gedurende hulle tyd daar sal wees.

Daar is reeds 20 skrywers waaronder André Trantraal, Bronwyn Davids, Lebo Mazibuko, Lydia Catherine Gittens en Mercy Kannemeyer wat die afgelope paar jaar by die residensie-program baat gevind het.

  • Die JGS se residensie-program word van 5 tot 25 Junie 2023 aangebied. Skrywers wat belangstel om hiervoor aansoek te doen kan hulle aansoek teen 17 Maart 2023 aan Theo Kemp, JGS se uitvoerende direkteur per epos by theo@jgf.org.za stuur. Besoek die webwerf by www.jgf.org.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.