DIE komende naweek is dit ‘sulke’ tyd vir ‘n klompie sigbare Jeffreysbaaiers wat onlangs gevang, in hegtenis geneem en aangekla is – en nou inderhaas hul vriende, kollegas, familie en kennisse moet nadertrek vir borgtog.
Op Saterdag, 4 Mei is die hof vanaf 10:00 by Die Werf, Fountains Mall in sitting om die gevangenes se saak aan te hoor en vonnis uit te spreek. Die hele groep sal geboei in hul oranje uniforms voor die magi-straat verskyn.
Die flinke Jbay Trauma Support Centre het onontbeerlike diens gelewer om die booswigte vas te keer en te laat aankla.
Hulle doen ‘n dringende beroep aan inwoners om hulle deel vir die gemeenskap te doen en die hofsake by te woon – en te hoor hoe die aangehoudenes hul sake bepleit.
Daar is verbasend bekende name onder die tienstuks: Kouga-burgemeester Horatio Hendriks, Pharos-skoolhoof Fanie Vermaak en predikers Mercy Cwayi van On Eagles Wings en Jarinda van der Westhuizen van die NG Kerk.
Nog is het einde niet: daar is Kouga-raadslid Brian Dhludhlu, fotograaf Rieg-hard Janse van Rensburg, C-AS pastoor Marinda Visser-Hough, Kouga Funerals se Dean Gilbert asook broers Alan en Cornelius Louw (onderskeidelik van The Showcase en Business Guide Marketing).
Inwoners moet verseker optrek om die saak te ondersteun.
Ernstige saak
Maar alle grappies op ‘n stokkie, want dié is ‘n ernstige saak. Die Jbay Trauma Support Centre het die gemeenskapsleiers ingetrek om aan hul dringende fondsinsa-meling, Jail or Bail, deel te neem.
Traumatoloog Maryke Pretorius bena-druk dat die pret en opwinding van die unieke projek ‘n ernstige kant het.
“Ons lewer ‘n eensoortige diens aan die gemeenskap waar elkeen in ‘n krisis, na traumatiese ervarings of met nood aan ons deure klop en gratis hulp kry. Ons perseel is gerieflik oorkant die SAPS in Neptune Terrace geleë, en binne bereik van baie van ons kliënte wat dikwels van openbare vervoer gebruik.”
Die kruks van die saak lê daarin dat die sentrum tans geheel en al van skenkings en donasiebefondsing afhanklik is om hul deure oop te hou.
Maryke: “Onvoorsiene ‘red tape’ het ons fondse vir ‘n onbepaalde tyd vasgemaak, en ons weet bloot nie wanneer dit beskikbaar sal wees nie. Intussen moet huur betaal word om ons kantore oop te hou.”
Sonder die nodige fondse of die gemeenskap se insette sal die dienslewering ge-staak moet word – todat die gelde beskikbaar gemaak word. “Ons weet nie wanneer dit sal wees nie.|”
Maryke sê dat die gratis berading aan inwoners in die hele streek gebied word. “Ons móét alles moontlik doen om die diens beskikbaar te hou. Die tekort aan fondse lê nie voor ons deur nie, maar kan dit wel sluit.”
Die Jail or Bail is pret vir almal, en die reaksie van die inwoners is ‘n fees, maar die saak is werklik ernstig en die sentrum het dringend elke moontlike helpende hand en Rand nodig.
Die tien ‘gevangenes’ smeek elke leser vir hul hulp om borg te help betaal.
Om die hofverrigtinge by te woon, pak ‘n piekniekmandjie, hou jou kombers byderhand en stroom na die inkopiesentrum.
As die gemeenskap nie help nie, sit die hele spul in die tjoekie.