Die Langkloof-landskap – Twee Riviere, Joubertina, Krakeel, Misgund en Avontuur – was Dinsdagoggend spierwit getooi in ’n dik laag sneeu. By Misgund was selfs mense wat vroegoggend die koue aangedurf het om ’n sneeuman langs die pad te bou. Jaco Botha, wat sedert 2015 in die dorp woon, sê boorlinge van die gebied sê Dinsdag was die eerste keer in 13 jaar dat die sneeu tussen die huise op die dorp geval het, pleks van net op die omliggende berge. Die voorspelde temperatuur vir Dinsdag was tussen 1 °C en 0 °C, maar Botha meen dit voel heelwat kouer. Reën het ook oor gedeeltes van die Langkloof uitgesak. Volgens Gawie le Roux van Krakeel is 12 mm reën teen Dinsdagmiddag in die gebied gemeet. Foto:BRAIN ZONDAGH