NOG ’n wonderlike deel van die plaaslike kunstefees wat in Mei volgende jaar op Jeffreysbaai gehou word, Kunskoors, is die een “been” van die Seekat – TuinKoors.
Dis die deel waar die dorp se tuine, strate en sypaadjies mooi gemaak word, en dan beoordeel word.
Die beoordeling van verskeie kategorieë sal op 22 April volgende jaar gedoen word, en die wenners sal tydens die fees in Mei aangekondig word.
Die organiseerders Pieter Kok (landskapsargitek), Ute Martins en Teresa Laubscher (albei van die tuinbouklub) sê daar is groot pryse te wen.
Die kategorië is vir groot tuine tot 1 000 vierkante meter, medium tuine tot 500 vierkante meter, klein tuine tot 250 vierkante meter, sypaadjies, ’n hele straat, skole, Da Gamaweg (vir besighede en privaat eiendom), besigheidstuine, kruietuine en eetbare tuine.
Drie beoordelaars sal die tuine besoek. Vir navrae en elektroniese inskrywingsvorms, kontak Ute by 083 286 4907.