Jack
Verskillende voëlspesies kan in die Links gesien word. Foto: WILLEMIEN GREEN

ST. FRANCISBAAI kan na dese as ’n gewilde gholfbestemming beskou word met die St. Francis Links wat nou as een van die beste bane in die land aangewys is.

Die Links is vyfde op Golf Digest-tydskrif se jongste lys van die 100 beste gholfbane in die land. Dis nie al nie, die St. Francisbaai gholfbaan, skaars ’n katspoeg van die Links, is nommer 85ste op die lys van gholfbane lands-wyd.

“In die 15 jaar wat die St. Francisbaai Links bestaan, het ons elke keer ’n paar plekke op die lys gestyg. Dis vir ons ’n geweldige eer om nou op nommer vyf te wees en as die beste gholfbaan in die Oos-Kaap beskou te word,” sê Christo Krugel, ’n lid van die Links se bestuur.

“Ons het aanvanklik nie eens geweet toe die bestuurder van Golf Digest (Stuart McLean) ons klub besoek het nie, dit was heel onverwags en ons het eers later in die dag besef wie dit was! Maar ons is verheug dat hy gehou het van wat hy sien.”

Volgens Krugel is dit vir hom lekker dat die St. Francisbaai gholfbaan ook erkenning gekry het.

“As ons groepe gholfspelers ont-haal, hou ons daarvan om hulle die volgende dag soontoe te stuur. Dis wat werk vir die gemeenskap hier. Ons help mekaar,” sê hy.

Christo Krugel voor ’n paar interessante foto’s in die Jack Nicklaus-kroeg. Foto: WILLEMIEN GREEN

Die St. Francis Links is eintlik ’n eksklusiewe klub. Jy moet ’n huiseienaar wees of eiendom besit op die landgoed waar die gholfbaan is om ’n lid van die klub te kan wees, maar nie-lede mag wel op die baan speel.

Volgens Krugel is die klub so gelukkig om 13 boorgate te hê. Dit help baie om die baan in die fantastiese toestand te hou wat dit is, hoewel Krugel beklemtoon dat daar gedurende die huidige droogtetye spaarsamig met die water gewerk word. Krugel meen al 18 putjies op die baan is spesiaal en wil nie een uitsonder as meer gewild by gholfspelers nie.

“Ek kan wel noem dat dit lekker is as jy so op die baan loop en jy sien sommer ’n njala of ’n bosbok of ’n skilpad vir jou loer,” vertel hy. “Ons het natuurlik ook al ’n slang of twee op die gholfbaan gekry, maar dié word dan net gevang en weer in die natuur vrygelaat.”

Die Sonskyn Toer het al verskeie keer van sy Vodacom Origins of Golf-toernooie by die Links aangebied.

Die Links se klubhuis was ook al die gasheer vir konserte deur be-kende musieksterre soos Watershed en Chris Chameleon. Krugel vertel laggend dat ’n klompie vroue omtrent “ga-ga” geraak het die aand toe Watershed daar opgetree het.

“Ons bied ook troues en ander ont-hale in die klubhuis aan. Ons het ook ’n kinderkamer waar die kleintjies besig gehou word en dan is daar ook na-tuurlik die Jack Nicklaus-kroeg wat baie gewild is,” sê Krugel.

Hy huiwer om die Jack Nicklaus-kroeg ’n kroeg te noem en verduidelik dis meer van ’n eetplek/bistro/sportkykplek.

“Vir Jack het ons baie respek. Hy het ons baan ontwerp en daar is ’n klompie fantastiese foto’s van hom in die kroeg,” sê Krugel.

Die Jack Nicklaus-kroeg en eetplek by St. Francis Links. Foto: WILLEMIEN GREEN

Een keer ’n week maak die klub sy hekke vir die publiek oop wanneer hulle dan aan ’n “Park-run” van 5km kan deelneem.

“Dis veral in Desember baie gewild en ons het dan al soveel as ’n duisend hardlopers hier gehad,” vertel hy.

Binne in die landgoed is daar ook vier staproetes waarop inwoners kan gaan kopskoonmaak.

Volgens Krugel is die duine in die Links ook “lewendig” en is en daar verskeie voëlspesies en interessante inheemse plantegroei te sien.

Die gewilde Chokka-staproete neem stappers ook ’n entjie deur die gholfbaan, net genoeg om jou lus te maak om daarna jou gholfswaaie so bietjie by die Links te gaan oefen!

  • Skakel St. Francis Links by 042 200 4500 of Christo Krugel by 072 950 7974 en die St. Francisbaai-gholfklub by 042 294 0467 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.