Die fliek 5000 Blankets was die inspirasie vir ‘n veldtog om vyf duisend komberse in te samel met ‘n stap ten bate van behoeftiges in die Kouga omgewing.
Hettie Bezuidenhout, vroeër van Bethlehem en reeds twee jaar op Jeffreysbaai, het tydens ‘n vlug na Qatar die fliek 5000 Blankets gekyk. Dit het ‘n saadjie in haar hart geplant. Dit het sowat ‘n jaar lank geneem om te ontkiem, en met hulle verhuising na Jeffreysbaai, het sy werk gemaak daarvan.
“Ek het met ‘n paar vriendinne gesels en met die regte mense kontak gemaak om die projek aan die gang te kry. Ons het ‘n komitee van 16 vrywilligers saamgestel wat elkeen ‘n ander sterkpunt het. Ons hoop om die boodskap en droom te bewaarheid. Die sal die eerste een wees. Ons wil volgende jaar probeer om uit te brei na meer dorpe in Kouga met roetes en aflaaipunte. Verskeie besighede is reeds aan boord en help met waterpunte, bemarking, aflaaipunte en kombers donasies,” sê Hettie opgewonde.
Komberse vir warmte in die winter
“Ons winters is koud en Kouga het baie behoeftige mense wat nie komberse kan bekostig of maklik kan bekom nie. Ons wil graag soveel moontlike komberse invorder om te help om ons gemeenskap te laat warm slaap. Van ons komiteelede het eerste-handse ondervinding met mense wat verkluim het in Jeffreys,” sê Hettie. Die mikpunt is 5000 komberse om sodoende die las te probeer verlig.
Bring een kombers vir elke 5km stap
Daar gaan twee afsonderlike staproetes wees wat deelnemers kan stap.
•Op Vrydag 23 Mei vind die eerste dag se “Urban walk” plaas om 08:00 by die Oase Gemeente wat bestaan uit ‘n 5km en ‘n 10km roete deur die strate van Jeffreysbaai. Registrasie is gratis, maar vir elke 5km wat deelnemers gaan stap, moet een kombers geskenk word.
•Saterdag 24 Mei om 08:00 vind die tweede dag se “Nature walk” plaas by Mentors Country Estate wat bestaan uit ‘n 5km en ‘n 10km roete op ‘n pragtige natuurroete. Dieselfde geld met een kombers per 5km wat gestap word.
•Ook op Saterdag 24 Mei om 10:00 beplan hulle ook ‘n 3km stap met honde waar alle kombersies en kos wat hier ingewin word sal gaan aan verskillende diere instansies.
•Van Vrydag 23 Mei om 13:00 tot die volgende dag om 13:00 vind ‘n 24-uur Padel toernooi plaas by Mentors Country Estate. Vrydagoggend tussen 09:00 en 12:00 kom doen Luister FM ‘n buite-uitsending by die Oase Gemeente.
Mense met fisiese uitdagings is welkom. Hou egter in gedagte dat die roete by Mentors slegs 2km op plaveisel is. Die natuurstap is nie rolstoel-vriendelik nie. Die roete van Vrydag kan gedoen word deur rolstoele alhoewel die begin en einde van die roete grondpad is.
Die padel se koste beloop R250 per spel. Koffie en eetgoed word Saterdag by Mentors se kiosk verkoop.
Verspreiding van komberse sorgvuldig beplan
Verskillende sopkombuise en instansies word geïdentifiseer. Die Astonbaai karavaanpark en verskeie aftree-oorde en kinderhuise is ingesluit. ‘n Sub-komitee neem beheer van die verspreiding. Die komberse gaan by Mentors gestoor word en van daar word dit uitgedeel.
Bied hulp aan en raak betrokke
Daar is heelwat vrywilligers nodig om oor die twee dae te help langs die roetes. “Ons het mense nodig wat komberse kan insamel, om selfs komberse te gaan oplaai by huise of besighede, om advertensies te help versprei, of om donasies te ontvang,” sê Hettie. “Ons moedig ondernemings aan om mekaar uit te daag!”
Aflaaipunte
Daar is verskillende aflaaipunte vir komberse: Fountains Mall, Oase Gemeente JBay, Mentors Country Estate, BP Garage Jeffreysbaai, Jeffreysbaai Toerisme kantoor, Pep Stores, Smhart Security kantore, Policlinic Apteek en The Windfarm Garage (tussen Gqeberha en Jeffreysbaai).
Vir navrae kontak Leilani by 084 681 3702, of Githe by 082 556 8967.