Stap tussen die fynbos en oor strome

MOEG vir die stad? Mik na die berge. Antjie se berge in die hartjie van die Langkloof.


MOEG vir die stad? Mik na die berge. Antjie se berge in die hartjie van die Langkloof.

Op die nuwe driedag 35km-stap-roete, Antjie se Pad, op die plaas Witteklip in Kareedouw, moet jy wel by tye woes swoeg en sweet om ’n bergpoel en waterval te bereik, maar die staproete bied onverskrokke (en fikse) stappers ’n skouspelagtige uitsig oor berge en heuwels wat tot by die horison golf.

Jy hoef nie ’n swaar rugsak te dra om die mooi staproete, wat aan die Baviaanskloof-natuurre-servaat grens, te beleef nie. Stappers kan òf hul bagasie by die beginpunt los, òf saam met hulle dra. Die eerste opsie word egter aanbeveel. Bagasie sal na die oornaghut, Slagkamer, geneem word – dié hut kan slegs met ’n 4×4 bereik word.

Die man agter die unieke figuur 8-staproete, Herman Stoffberg, sê water is baie belangrik – al is daar verskeie stroompies langs die pad.

“Langs die pad is daar dammetjies wat as veesuipings dien. Stappers kan hier swem en selfs die water drink. Daar is ook water by die hut wat uit ’n syferdam kom. Ek drink dit, maar diegene met delikate mae moet eerder die water kook voor hulle dit drink.”

En moenie van die luiperds vergeet nie, maar hulle is baie skugter.

Staproete

Op dag een pak stappers die 12.5km-roete vanaf die Witteklip Konferensiesentrum op die plaas na die oor-naghut aan. Eerste op die staplys is die wildskamp waar rooibok, eland en vaal- en rooiribbok tussen die oorvloed fynbos te sien is.

Van hier volg stappers die pad tot bo-op Blouberg wat panoramiese uitsigte oor die Kouga- en Hanekamberge bied – ’n klim van 484m tot 810m bo seevlak.

Dan daal stappers tot 579m bo see-vlak tot by Slagkamer waar hulle oorbly.

Híér is slegs die basiese geriewe: ketel, rooster, hout, beddens met matrasse, ’n spoeltoilet en ’n buitestort langs ’n waterstroom. Daar is geen elektrisiteit nie.

Dag 2: tyd vir die stywe klim oor Aalwynrug (910m bo seevlak) – die tuiste van honderde aalwyne en reuse-broodbome. Daarvandaan daal stappers tot in Graslaagte by Boes-manskrans.

“Kyk uit vir die eerste van ’n paar skaars Baviaans-sederbome in die gebied,” sê Stoffberg. “Daar is ’n baie mooi, ongeskende sederboom in die rivierloop by Boesmanskrans.”

Nog ’n hoogtepunt van die 12km-roete, is die helder stroom waar uitgeputte stappers kan afkoel – as dit gereën het. Maar dan is dit weer opdraand tot bo-op Agterberg wat pragtige uitsigte oor die Baviaanskloof bied.

Op die laaste dag klim stappers tot 788m bo seevlak – al op die ‘agter- paaie’ van Paardenberg tot by die Baviaansrivier, die speelplek van klipspringers.

Dan is dit tyd vir die laaste skof: terug deur die wildskamp tot by die konferensiesaal.

Antjie se Pad

Stoffberg sê: “Die staproete is ver- noem na ’n bejaarde vrou, Antjie, wat vir jare elke oggend die 10km-bos-paadjie oor die berg na Witteklip – waar sy gewerk het – aangepak het.

Wat maak Antjie se Pad so spesiaal? “Die fynbos . . . die sterrehemel . . . die afgeslotenheid van die res van die wêreld . . . en die ongelooflike uitsigte . . .” sê Stoffberg.

Meer inligting

Die koste is R600 of R1 000 (gemak-rugsakreise en bergfiets) per persoon. ’n Minimum van vier stappers en ’n maksimum van agt kan die roete aanpak, wat op 1 Desember open.

Vir meer inligting, stuur ’n epos na antjiesepad@gmail.com of skakel Herman Stoffberg by 082 741 2733

You need to be Logged In to leave a comment.