DIE stapgogga het ’n vrou van Jeffreysbaai, wat begin stap het om die dood van haar ma te verwerk, behoorlik gebyt en sy stap sedertdien oral waar sy wil wees.
Met haar omgeboude inkopietrollie en die wolgesiggie van haar Yorkie, Bob Marley, wat by ’n krat op die trollie uitsteek, kan Yolandé van der Merwe (50) al van ver af langs die pad gesien word.
“Hierdie is Bob Marley – oor sy wolhare. Hy is al 12 jaar oud, maar geniet dié stappies,” sê Van der Merwe terwyl sy die besige Kaapweg in Port Elizabeth afstap.
Sy het verlede Maandag vanaf Jeffreysbaai in die stad aangekom.
Vir die volgende paar dae het sy vriende in Port Elizabeth besoek voor sy ’n paar noodsaaklikhede aangekoop en van haar besittings opgetel het wat sy by vriende in die stad agtergelaat het om ’n rustiger lewe te begin. Daarna het sy weer terugstap na Jeffreysbaai, waar sy tans op ’n kampeerterrein woon.
Sy besit nie ’n motor nie en verkies om te stap.
“Ek het al die Kaap en die Karoo te voet gesien. Ek het twee gesonde voete om mee te stap. Vir my gaan die stappery daaroor om die lewe meer te geniet. In ’n kar gaan die lewe te vinnig verby, jy mis dit wat om jou gebeur.”
Van der Merwe het sowat ses jaar gelede dié lewenswyse aangeneem nadat haar ma, Anna, skielik gesterf het.
Hulle het gereeld vir oefening saam gaan stap, of sommer net na ’n koffiewinkel gestap om ’n lekkerny te geniet.
“Ek het daai tyd al agter my ma aangestap. Ná haar dood het ek haar vreeslik gemis. Sy het die lewe ten volle geniet.
“Dit was toe dat ek besluit het om verder te stap, te dink aan haar, oor die lewe, en dit is wat my gehelp het om haar dood te verwerk.”
Met al die stappery het sy ook na geselskap verlang, maar sy het besef dat Bob Marley te oud is om self die langpad te stap. Sy het dus die inkopietrollie by kinders op straat gekoop en ’n spesiale sitplek met ’n krat en kussing vir hom ingerig.
Beddegoed, hondekos en ekstra water word ook saamgeneem. “Ons moet altyd genoeg water saamvat. En die beddegoed is vir as hy koud kry, of wanneer ons soms iewers langs die pad kamp.”
Terwyl Bob Marley nie ’n vreesaanjaende waghond is nie, meen Van der Merwe dat sy niks meer as dié liefdevolle “wolgesiggie” nodig het nie, aangesien sy vertrou op die Here se genade om haar veilig te hou.
En hoewel haar eenvoudige bestaan haar nie veel geld kos nie, erken Van der Merwe dat sy eendag weer sal moet werk.
“Wanneer ek weer begin werk, sal dit beslis iets wees waarmee ek steeds die lewe voluit kan geniet.”