GEMOEDERE loop hoog op Jeffreysbaai nadat ’n balhorige taxi-bestuurder ’n ouer vrou minder as ’n meter van haar motor in die parkeerarea van Fountains Mall getref het.
Die 63-jarige vrou, se bekkenbeen is gebreek, en sy is vir die volgende ses weke platgetrek.
Die slagoffer se dogter, wat eers na die voorval op die toneel was, sê: “My ma was in skok toe ek daar kom.
“Sy het haar pakkies in die motor gebêre. Met die omdraaislag om die waentjie terug te neem, het die taxi haar platgetrek.”
Aanlyn spreek laasgenoemde haar uit: “Ek is dankbaar dat my ma ‘okay’ is, maar hart-seer dat ek vir die res van my lewe bang gaan wees as my ma winkel toe ry om inkopies te doen.”
Sy sê sy het al baie stories van die taxi’s by die sentrum gehoor, maar nooit gedink haar ma sal die slagoffer wees van so ’n “unfortunate incident” (aldus die sentrumbestuur) nie.
Flink optrede van die Wimpy-bestuurderes het daartoe gelei dat die vrou deur ambulansdienste behandel is, en ’n vroulike karwag het gekeer dat die klaarblyklik-ongelisensieerde taxibestuurder hom nié uit die voete maak nie.
Die polisie was op die toneel.
Vervolg op bladsy 3