Ondersteuners buite die hof. Fotos: VERSKAF

OP Maandag, 8 Maart, was dit die derde keer dat ’n verdagte in die Clyde Stuurman moord in die be-skuldigdebank om borg aansoek gedoen het, maar moes weer eens hoor dat sy aansoek onsuksesvol was.

Donovan Wolf (31) die beskuldigde, het soos gewoonlik in die Humansdorpse Landdroshof stelling ingeneem in die beskuldigdebank in ’n stampvol hofsaal en het moeg en afgemat voorgekom.

Wolf se regsverteenwoordiger, Gert Steyn, het vroeër aangevoer dat sy kliënt op ’n skedule 5 misdryf aangekla moet word, maar die staatsaanklaer het aangevoer dat dit ’n voorafbeplande moord is en daarom as ’n skedule 6 misdryf verhoor moet word.

Staatsaanklaer Vicky Rossouw het daarom aangevra dat die saak uitgestel word en verwys word na die DOV vir ’n beslissing.

Wyle Clyde Stuurman. foto:verskaf

Die saak spruit uit die dood van Clyde Stuurman (26) van Wavecrest, Jeffreysbaai, wat op 10 Februarie doodgeskiet is. Sy liggaam is sowat 500 meter vanaf sy huis langs die R102 pad gekry.

Daar word beweer dat die verdagte glo self die polisie ontbied het, maar was glo nie in hegtenis ge-neem nie.

Dié moord het wyd opslae gemaak en ’n Khoi en San leierskorps onder leiding van Christian Martin, het met ’n groot gevolg die saak bygewoon.

Die familie se woordverder, Freddie van Rooyen, het buite die hof aan ondersteuners gesê, “Hoe moeilik is dit om die gevoel van vandag in die hof te beskryf. Vandag kon die staatsaanklaer in ’n stadium nie die hart en die stem van ’n hartsverstoorde moeder terughou nie. Ons was emosioneel toe sy oor en oor vir die landdros sê dat Clyde Ezra Stuurman niks verkeerd gedoen het nie. Clyde Stuurman wat in Wavecrest tuisgegaan het, het net geloop soos een wat in Wavecrest bly. Wat het hy verkeerd gedoen deur in Beefwoodstraat te loop? Ons harte is stukkend net om te weet Clyde Ezra Stuurman het geen gevaar vir die Wolf-gesin ingehou deur oor die oop plot in Kiaatstraat te loop nie.”

Die DOV het die saak as ’n skedule 6 misdryf geklassifiseer omdat die staat sterk glo dat die moord vooraf beplan was. Die saak is uitgestel tot 7 Mei. Intussen duur die ondersoek voort.

You need to be Logged In to leave a comment.