DIE Suider Paarl Landbou Koöperasie is nou deel van Die Koöperasie-groep – dit verseker groter bedingingsmag tot voordeel van boere.

In sy 75ste bestaansjaar met 34 handelstakke en 18 spesialiteitsdepots in Suid-Afrika, deel Die Koöperasie en Suider Paarl Koöperasie die unieke besigheidsmodel van ’n koöperasie.

Die eenparige besluit van Suider Paarl Koöperasie-lede om die vrywillige samesmel-ting te ondersteun, kan direk toegeskryf word aan die gedeelde waardes wat dié twee landboubesighede nastreef.

Volgens Derek Clift, voorsitter van die Suider Paarl Koöperasie Direksie, is hierdie strategiese besluit geneem tot voordeel van boere in die Wes-Kaap. “Ons lede het nou toegang tot ’n wyer netwerk van produkte en dienste wat ingeligte besluitneming tot gevolg het. Daarteenoor is die sentrale stelsel van bedinging en operasionele bestuur ’n wyse besluit om sodoende oorhoofse kostes te minimaliseer.”

Henk Agenbach, hoof-uitvoerende beampte van Die Koöperasie-Groep, sê: “In elke streek is kenmerkende landboubedrywighede, maar tesame kan lidmaatskap uitgebrei word en die wyer verskeidenheid van dienste en ondervinding kan ook wedersyds tot voordeel van produsente aangewend word.”

Die samesmelting is effektief 1 Julie 2019 en alle bedrywe rondom Suider Paarl Koöperasie sal deur Die Koöperasie geadministrateer word.

You need to be Logged In to leave a comment.