TWEE susters het Vrydag ’n wêreldrekord opgestel toe hulle die see aangedurf het om geld vir kinders in nood in te samel.
Abriella Bredell (13) en haar suster, Issataya (11), het Vrydag om 09:00 weggespring en elkeen twee baie uitdagende afstande in die see aangedurf. Hulle het veilig aan die ander kant uitgekom en só saam ’n wêreldrekord opgestel. Abriella is die jongste persoon wat net in haar swemdrag ongeveer 12km reg rondom Robbeneiland geswem het. Issataya is die jongste persoon wat 8,5km van Kaappunt na Valsbaai geswem het.
Hulle het dié uitdagende swemtogte ten bate van behoeftige kinders in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad en die hospitaal se noodeenheid aangedurf.
“Ons het dit albei gemaak, en dit was ongelooflik!” het Abriella Vrydagmiddag gesê. Sy is in Rhenish Girls’ High School op Stellenbosch en Issataya is in die Laerskool Stulting in Humansdorp. Al het sy veilig aan die ander kant aangekom, het Issataya dit nie baie geniet nie. “Ek het dit absoluut gehaat. Dit was nie die beste swemsessie wat ek al gehad het nie, maar beslis iets om op my emmerskop-lysie af te merk,” sê sy.
Sy sê die see was rof en die wind het reg van voor gekom. “Dit het my baie langer geneem as normaalweg. My tyd is normaalweg 2 uur en 30 minute, maar ek het 4 uur lank geswem.”
Sy het egter die robbe wat saam met haar geswem het baie geniet. Daar was geen teken van haaie nie.
Abriella het presies die teenoorge-stelde as haar suster ervaar. “Die toestande was regtig goed – geen wind nie, plat water. Die temperatuur het die hele ent op 12 grade gebly – dít is ’n bietjie koud!”
Sy sê sy wens sy kon na die eiland kyk terwyl sy swem, “maar ek het antikloksgewys geswem en ek haal na regs asem”. Abriella het elke 40 minute ’n pouse geneem om haarself met heuningbostee te hidreer, maar sy het nie aan die boot of aan iemand anders geraak nie. “Die seewier het dit moeilik gemaak om water te trap en ek het twee keer so hard gewerk om kop bo water te hou.”
Issataya het nie eens een keer gestop nie. “Ek het net geswem; ek moes dit doen en klaarkry.”
Weens die uitbreking van die koronavirus is streng opdragte gegee dat daar nie baie mense mag kom om die susters te ontvang nadat hulle klaar geswem het nie. Een boot met ondersteuningspersoneel en fotograwe het elkeen van die susters in die water vergesel en toegesien dat hulle geen probleme ervaar nie.
Abriella het reeds ’n wêreldrekord behaal. Sy was 11 jaar oud toe sy die 7,9km van Bloubergstrand na Robbeneiland in net haar swemdrag ge-swem het. Daarmee het sy R158 000 vir die kinderhospitaal ingesamel. Sy was toe al ’n ambassadeur van die hospitaaltrust en haar sussie het later ook een geword.