Tannie Patsy Hauptfleich loop gedurig met haar oë gerig op die grond, op soek na klippe of skulpe. Sy het selfs ’n winkeltjie by haar huis waar van haar besondere vondse uitgestal is, en sommiges te koop is.
“Ek het grootgeword in ’n huis waar ons baie lief was vir die natuur. My ouers het ons gereeld na plekke geneem, veral in die Dullstroom area waar ons groot geword het, om in die veld te kyk na plante en alles wat die Liewe Vader vir ons daar neergesit het,” vertel sy met ’n vonkel in haar blou oë.
Klippe in die Namib
Nadat haar man destyds na Namibië verplaas is, het sy vreugde gevind in die mooi klippe wat sy in die woestyn gevind het.
“Ek en my hondjie het die dae omgestap in die woestyn. Ek het later geleer om aan die klippe te lek om dit te identifiseer. En, o aarde, ek het ook al ’n paar bokdrolletjies gelek,” lag sy skertsend.
Eers het sy alles opgetel wat voorkom, maar later meer kundig en kieskeurig die klippe versamel. Met haar klein Morris Minor het sy daag-liks versigtig ’n ander koers ingeslaan. Die uitstalling wat sy op ’n ou afgeskuurde kombuisdeur gepak het, het haar groot vreugde verskaf.
Haar man, Attie, was nie daarmee geneë dat sy vrou-alleen rondry nie. Mooipraat het nie gehelp nie, en nadat sy ’n onderonsie met ’n slang gehad het, en ook ’n keer sonsteek opgedoen het, het hy later die bedrading van haar motortjie ontkoppel.
Skulpe
Tannie Patsy se lewenspad het later jare na Jeffreysbaai gelei. Hier het sy verlief geraak op die wonderlike skulpe wat sy daagliks van eerste lig af op die strand kon optel. Oor die meer as veertig jaar wat sy al hier woon, het verskeie branderplankryers vanoor die wêreld van haar woonstelletjies op haar werf gehuur. Hulle het uitsonderlike skulpe vir haar saamgebring wat sy met trots uitstal. Tot twee maande gelede nog het sy sonder moeite op die strand gestap. En sy het twee jaar gelede haar motorsleutels gebêre.
“Ek verwonder my aan die natuur. Dis iets wat die Here gemaak het. Ek vind genot in die wonders van die Skepping. Niks gee my groter plesier as om met my neus op die grond te loop en die wonders te vind nie. Enige klip of skulp is vir my mooi. As ek kon, sou ek die hele strand huistoe gebring het.”
Haar skulpversameling in die kelder van haar huis het te groot geword. “Ek kan dit tog nie eendag saamneem nie. Ek is dankbaar dat ek dit kon geniet – dit was vir my geleen.”
Vriende van die Skulpmuseum op Jeffreysbaai het aangebied om haar versameling vir haar te orden. Philip Steenkamp en Tana Kruger het dae lank in die kelder deurgebring. Eers het hulle vir Tannie Patsy ’n spesiale versameling saamgestel van al die soorte wat sy al opgetel het. Hulle het van die skaars skulpe by haar gekoop vir die museum, en ander sal in pakkies opgemaak word om by die museum te verkoop. Die res sal teruggegee word aan die see.
By haar huis skuins oorkant die poskantoor, word daar ook die mooiste vetplante verkoop, wat deur ’n vriendin behartig word.