Tegniese Kollege reuse aanwins vir Jeffreysbaai

JBAY Tegniese Kollege, een van die sinvolste toevoegings tot die onderwys in Jeffreysbaai, begin nou sy spiere bult nadat die dorp vir te lank ‘n agterstand op hierdie gebied opgebou het.


JBAY Tegniese Kollege, een van die sinvolste toevoegings tot die onderwys in Jeffreysbaai, begin nou sy spiere bult nadat die dorp vir te lank ‘n agterstand op hierdie gebied opgebou het.

Die mening is dat daar buitengewoon gesloer is met die daarstelling van dié sosiaal noodsaaklike ontwikkeling. Die kollege, onder leiding van oud-lektor Gerhard Pietersen en sy vrou Magda, het ontstaan uit die langer gevestigde JBay Academy. Sedert die Pietersens in 2017 toegetree het tot die kollege, het die getal studente reeds verdubbel.

Talle leerders volg nie ‘n universiteitskursus of ‘n loopbaan in die landbou of sakesektor nie; en vir sulkes is tegniese opleiding baie belangrik – veral in die moderne tyd waarin veel klem geplaas word op tegnologiese ontwikkeling. Selfs landbou- en mynbou-aspirante word deur die kursusse geraak.

Soos by tegniese kolleges deur die jare, word die N1 tot N6-kursusse aangebied. N1 tot N3 is min of meer gelyk aan graad 10 tot 12 aan gewone hoërskole, en N5 tot N6 is gevorderde kursusse vir studente wat reeds graad 12 geslaag het. Leerders wat vir die eerste maal N3 doen, moet dit liefs oor ‘n sesmaande-tydperk doen, om by die werkslas aan te pas. Daarna kan die ander kurusse in driemaandelikse tydperke afgehandel word.

Daar word veral gefokus op jongmense wat n bepaalde tegnies/teg-nologies-gerigte loopbaan wil volg. As in gedagte gehou word dat die gemiddelde ouderdom van bv Kouga-munisipaliteit se tegnici 50+ is, is dit duidelik dat ‘n nuwe generasie tegnici opgelei moet word.

Dit is dus verblydend om te sien dat leerders uit alle rassegroepe by die kollege betrokke raak. Na suksesvolle studie is hulle toegerus met nasionale sertifikate in ingenieurstudies (siviel, ketelmakery en sweiswerk), meganiese ingenieurstudies, elektriese ingenieur (N4 en N6), swaarstroom elektriese ingenieur (N4 tot N6), asook siviel en meganies op dieselfde twee vlakke.

Ook word ‘n inleidende kursus in ingenierswese aangebied vir leerders wat belangstel in die ingenieursbedryf, maar wat nie graad 9 met wiskunde as vak voltooi het nie. Na suksesvolle voltooiing van dié kursus kan hulle met die N1-kursus begin. Daar is selfs ‘n kursus wat studente oplei in die korrekte hantering van instrumente en gereedskap wat in ambagte gebruik word.

Al die beroepsgerigte kursusse is daarop gemik om jongmense voor te berei vir verskeie loopbane. Eksamens word in Port Elizabeth afgelê, en die kursusse is by MERSA en SAQA geregistreer.

Hierdie kollege het ‘n akademies-gerigte etos. Omdat die inrigting in privaatbesit is, is opstandige studente nie ‘n faktor nie, en kan alle leerders in ‘n rustige en gedissipli-neerde milieu hul studies voortsit.

Vir meer inligting, stuur ’n epos na admin@jbayacademy.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.