Tehuis-bestuurder tree na dekades af

AS jy vinnig wil grys word, moet jy hier kom werk, skerts Olivier Kritzinger (65) onderwyl hy sy versorgde hand deur sy welige bos grys hare trek.


AS jy vinnig wil grys word, moet jy hier kom werk, skerts Olivier Kritzinger (65) onderwyl hy sy versorgde hand deur sy welige bos grys hare trek.

Dié jarelange staatmaker is aan’t pak in sy kantoor in Joubertina. Hy tree vandag ná twintig jaar en drie maande af as projekbe-stuurder van Huis Formosa-tehuis.

Kritzinger het in die twee dekades groot dinge gedoen.

Met sy passie vir mense, tesame met sy sterk sakevernuf, het hy Huis Formosa binne twee jaar herskep tot ’n florende besigheid en terselfdertyd die tehuis bevorder en meer doeltreffend gemaak.

Ja, opofferings was daar baie, erken hy. Maar hy verruil niks vir die voorreg wat hy gehad het om sy visie vir Huis Formosa uit te leef en om ’n verskil in mense se lewens te maak nie.

Kritzinger frons liggies: “Die daaglikse eise was enorm, veral in die begin, maar dit was my keuse. Ek is diep dankbaar teenoor my vrou, Anita, wat my die ruimte gegee het om my passie na te jaag.”

“My huis was nog altyd ’n veilige hawe waarheen ek kon terugkeer.”

Liefde vir mense

Dié pa van drie spruite – Janine, Juanita en Jacoline – voorheen ’n senior bestuurder by Spoornet, ouditeur en dosent, het op 1 Desember 1998 die leisels by Huis Formosa oorgeneem.

Hy het hom teen ’n allemintige oortrokke bankrekening van R487 000 vasgeloop.

Toe hy hoor hoeveel skuld hulle het, het hy in Junie 1999 ’n slaghuis by die tehuis geopen – een van sy groot passies.

Dié slaghuis en Kritzinger se smullekker boerewors – wat in 2016 as die beste tydens die Shoprite/ Checkers Championship-boereworskompetisie aangewys is – het bygedra dat die skuld binne 14 maande gedelg is.

“Dít, en oneindige genade van bo,” sê Kritzinger wat al sedert 1999 proe-proe aan sy wenresep skaaf.

Eet die bejaardes van dié wors?

Hy lag trots: “Die inwoners weet al lankal dat die beste boerewors op Joubertina gemaak word.”

Behalwe vir die wors, kry inwoners elke dag ’n gesonde bord boerekos vandat Kritzinger aan die stuur van sake staan.

In die vrugteseisoen kry hulle gereeld vars vrugte – soms dié wat hulself gepluk het.

Uitstappies, aktiwiteite op die perseel en die jaarlikse boerebasaar is hoogtepunte.

Kritzinger vertel hy is die eerste bestuurder om die instandhouding en verbetering van die gebou aan te spreek.

Hulle spog tans met veertig watertenks met ’n totale kapasiteit van 250 000l.

Ander verbeterings sluit in die opgradering van sagteware programme vir administrasie en ’n skoon oudit-verslag vir die afgelope twintig jaar.

“Dit is ons begeerte om ons bejaardes ’n mooi lewensuitkyk tydens hul laaste jare te gee,” sê Kritzinger.

Prestasies

Hy is in 2000 vir sy uitsonderlike prestasies, belangstelling en opbouing in en van die gemeenskap as die Langkloof Sakekamer se “Very Important Person” van die Jaar aangewys.

Benewens vir sy onvergeetlike werk by Huis Formosa, het dié liefhebebber van geskiedenis in 2007 die 100-jaar feesboek vir die plaaslike NG Kerk saamgestel en in 2012 die 100-jaar feesboek van die Hoërskool McLachlan..

Aftrede

Hoe pak ’n mens jou loopbaan op ’n dag in ’n boks? Kritzinger doen dit nie, hy verskuif net sy fokus.

Ja, hy skaal af – hy en Anita trek na ’n huis in Groot Brak in die Wes-Kaap. Hy sien daarna uit om meer tyd saam met haar deur te bring.

Maar van heeltemal agteroorsit is daar nie sprake nie. Kritzinger gaan steeds met die vleisverwerking vir die jaarlikse boerebasaar help en gesels tans met Woolworths om wors aan hulle te verskaf. Dan is daar die moontlikheid van ’n slaghuis in George.

Wat gaan dié omgee-mens die meeste mis?

Kritzinger dink terug: “Beslis die inwoners en my personeel – hulle wat altyd geluister het wanneer ek praat, en selfs die wat nie altyd so mooi geluister het nie.

“Ons het oneindige liefde, vreugde en leed gedeel. “Dit is so dat daar mense is wat nie net voetspore in jou lewe laat nie, maar ook in jou hart.”

You need to be Logged In to leave a comment.