TONNE aartappels help leë mae volmaak.
Die Jeffreysbaai-tak van die burgerregte-organisasie, AfriForum, het op Maandag, 27 April ’n aartappelskenking van 28 ton van die Vaalharts-besproeiingskema naby Chris-tiana ontvang.
Dié skenking gaan gebruik word om voedselnood te verlig wat weens die huidige inperking vir Covid-19 pandemie in dié gebied voorkom.
Takvoorsitter Dries du Preez het die skenk-ing bekom en fondse is bewillig om vervoerkostes te dek. Die aartappels is na ’n stoor geneem, waarna dit verpak en na organisasies soos Bay Pasta Co, Let’s Feed JBay, die munisipale voedingsprogram en kerkgroepe versprei sal word.
“Dit is ’n voorreg om die Kouga-gemeenskap op die wyse te kan ondersteun,” sê Du Preez. “Toe die geleentheid oor ons pad kom, was dit God se manier om hierdie tak as sy instrument te gebruik vir die verligting van die ontsettende nood in ons omgewing. Ons moedig graag mense aan om deurlopend aan die geveg teen die Covid-19 pandemie deel te neem.
“Saam sal ons sterker aan die ander kant uitkom.”
Arno Greyling, distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, sê dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe AfriForum-takke inspring en ’n verskil in hul gemeenskappe maak.
“Die Jeffreysbaai-tak maak ons in besonder trots. Hulle het die pandemie gebruik om na ander organisasies uit te reik en in die proses bande gebou en versterk. Ons wil baie dankie sê vir dié ruimhartige skenking – julle elkeen maak ’n reuseverskil.”


