Die ywerige tuinmakers van Jeffreysbaai is besig om die laaste bossies uit te trek en takkies te snoei vir die TuinKoors tuinkompetisie.
Die feesdirekteur, Soria Swart, sê daar is talle dorpe in die land wat tuinkompetisies hou, en dié is nou ‘n eerste vir Jeffreysbaai.
“Dit is ook ‘n kunsvorm. Ons wil graag ‘n gevoel van gelukkigheid en trots skep by mense, en om terselfdertyd die dorp mooi te maak. En ons wil dit volhoubaar doen.”
Van die kategorieë waarin mens kon deelneem wissel van klein-, medium- en groot tuine, groentetuine, besighede, straat tuine, sypaadjies en skooltuine. Daar is sowat twintig deelnemers wat op 23 en 24 April beoordeel sal word. Die finaliste sal op 30 April by die gala-aand aangekondig word by die Rose Barn. “Hoewel die eerste drie plekke groot pryse gaan wen, is daar wel ‘n prys vir elk van die sowat twintig deelnemers.
Die deelnemende tuine kan gratis op spesifieke tye besoek word. Daar sal ‘n bordjie by elke tuin wees om die finaliste aan te dui. Die kontrei se Kokkedoor wenner, Gert Opperman, sal die ete maak vir die gala geleentheid. Die sanger Johan Liebenberg sal ‘n vertoning aanbied met die musiek van Neil Diamond. Kaartjies teen R200 elk is nog beskikbaar by Soria by 082 684 4350.
• Die besoektye en adresse van die tuine is op Kunskoors se Facebook blad te sien.