DIT het als begin met haar ge-liefde hond se wrede dood by die Humansdorp-stortings-terrein – tussen hope stinkende vul-lis, ore afgesny.
Alleen.
Die hartseer lê vlak in 31-jarige diereliefhebber, Lana Brent van Humansdorp, se oë: “Ek het vir ure rasend na Jagger gesoek, my Staffordshire Bull Terrier (Staffie), net om vroeg die volgende oggend te hoor iemand het sy ore afgesny, hom doodgemaak en by die stortingsterrein gegooi.
“Hy was nie eers begrawe nie. Hy was sommer net daar afgegooi – so tussen die rommel.”
Sy het die betrokke dag in 2015 na werk besef haar een hond is nie in die erf nie. Sy het in die omliggende strate begin soek en oral plakkate opgesit en in inwoners se posbusse gegooi. Dit het egter niks opgelewer nie en sy het haar soektog wyer ge-neem.
Ure later het drie mans haar gekontak: hulle weet van iemand wat oor moontlike inligting beskik.
Mét die onbekende man se hulp, is die soektog na Jagger tussen die kinders van die informele nedersetting voortgesit. Brent frons: “Ons kon geen inligting uit die kinders kry wat vermoedelik die hond onder mekaar verkoop het nie.
“Teen middernag het ek moeg en moedeloos terug huis toe gegaan, terwyl die man onverpoos na Jagger bly soek het. Om 01:30 daardie oggend het hy my gekontak: hy het Jagger by die stortingsterrein gekry, dood.
“Ek was in stukke, maar ook woedend. Watter soort mens doen so iets aan ’n onskuldige dier?
“Die ergste is, ek sal nooit weet wat regtig gebeur het nie.”
Brent, wat van ’n jong ouderdom af ’n liefde vir diere het en ’n passie om hulle te help, het net daar besluit dat sy iets moet doen – die diere moet gehelp word.
Eers te bang om alleen na die stortingsterrein te gaan, het sy vir jare die diere in die informele nedersetting gehelp.
Nóú, vier jaar later, beywer sy haar om diere daar te help.
Humansdorp-stortingsterrein
Brent, asook mede-diereliefhebbers Anne-Marie van der Walt en Igmé Rademeyer, het in Junie, vanjaar die Humansdorp-stortingsterrein besoek – vir die heel eerste keer. Op dieselfde dag is die Help for Humansdorp Anmials-groep op die been gebring
Met een doel voor oë: ’n beter lewe vir die tientalle ashoop-honde. Opvoeding van honde-eienaars, kos, hondehokke, mediese hulp òf ’n nuwe huis waar nodig.
Brent beskryf die stortingsterrein as ’n gru-toneel: “Toe ons daar aan-kom het ons op ’n mamma-hond afgekom – haar vier bene aanmekaar vasgeketting en haar dooie klein- tjies langs haar.”
Nog tonele wat hulle begroet het, is vermaerde en uitgeteerde honde, honde wat vasgeketting staan sonder water, kos of skuiling en diere oopgesny deur die stukke glas wat oral rondlê. Asook ’n hond in ’n klein houtkrat vol van sy eie ontlasting en dierebene en -velle. Hy het nêrens heen om te gaan nie.
Dan is daar die goedversorgde honde van liefdevolle eienaars. Dié is egter in die minderheid.
Hoekom so baie honde?
Geld.
Brent vee ingedagte deur haar hare, oë nougetrek: “Hoe meer honde, hoe meer kleintjies. En hoe meer geld as dié hondjies verkoop word.
“Sekere van die honde word vir jagdoeleindes gebruik.”
Na groot protes, het sommige van die eienaars hul honde vir mediese behandeling oorhandig.
Maar hulle is in die minderheid.
Brent glimlag hartseer: “Van die honde was so siek, dat ons geen ander keuse gehad het as om hulle uit hul lyding te verlos nie. Ek sal hulle oë nie gou vergeet nie. Hulle kyk na jou en vra om te leef. Hulle het nie gevra om hier te wees nie, maar hulle wil lewe.
“Ander is na die veearts vir behandeling (was, ontwurming, inenting, bosluis- en vlooitablette) en sterilisasie geneem. Van dié is in ‘pleegsorg’ geplaas, terwyl ons ’n permanente huis vir hulle soek.”
Droom groot
Haar groot droom?
Om die hele Humansdorp se honde te help – gebied vir gebied.
“En ’n veilige hawe op ’n groot plaas: vir hond, kat en muis. Dit moet hulle huis wees, vir altyd.”
Help só
Help for Humansdorp Animals werk nou saam met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) Assisi Humansdorp en Kouga-munisipaliteit.
Sy glimlag hoopvol: “Ons kan die allemintige taak nie op ons eie aanpak nie; ons het mekaar nodig.
“Saam kan ons ’n daadwerklike en blywende verskil maak. Nie net in die lewe van die ashoop-honde nie, maar reg-oor Kouga.”
Alle skenkings word verwelkom: geldelike donasies (Absa, SPCA Assisi, rekeningnommer 406 720 131), hondekos, pille vir ontwurming, komberse en hondehokke. Vir meer inligting, skakel Natassja Barnard by 082 437 1498.
Vir meer inligting oor die Help for Humansdorp Animals, skakel Brent by 076 742 9924, of besoek die Help for Humansdorp Animals Facebook-blad.