HÍÉR, by die Kabeljous-natuurreservaat, kan jy jou oorgee aan die natuur en stilte – net jy met jou verkyker, voëlboek, water en peuselgoed…
Dié reservaat, wat op 60 hektaar net buite Jeffreysbaai geleë is, is elke natuurliefhebber se droom. Ongerep en rustig met voëls en bokke wat tussen die fynbos wegkruip.
Op die Saterdagoggend van ons stappery by die reservaat, kom Dirk Teubes van Kabeljous Reserve Action Group (K.R.A.G.) aangestap om te groet – verkyker oor die skouer en hoed op die kop.
Gereed om sy klein koninkryk met ons te deel.
Ek vra vir Dirk oor die verskillende staproetes, soos die groen ingangsbord aandui – die roetes is so kort of so lank soos waarvoor jy kans sien. Dit wissel tussen 500m en 8km.
Hy vertel hoe die reservaat tot stand gekom het: “Die K.R.A.G. is in April 2018 deur vrywilligers met een doel gestig: om dié kosbare lappie natuur te bewaar.
“Die reservaat spog met pragtige sanduine wat met natuurlike plantegroei, vleilande, valleibosveld en melkbos (euphorbia) oortrek is.”
Dirk glimlag: “Ons moes selfs die verskillende roetes oopkap – ’n allemintige taak. Maar dit is beslis die moeite werd. Besoekers aan die reservaat sluit in drawwers, bergfietsryers, voël-entoesiaste en ruiters.
“K.R.A.G. en Jeffreysbaai Toerisme werk hand-aan-hand om beide die Kabeljous- en Noorsekloof-natuurre-servaat in Da Gamaweg, onder inwoners en toeriste te bemark.”
Staproete
Dan is dit tyd vir stap.
Ons volg die River Walk-voetpad wat deur die grasveld na die Kabeljousrivier kronkel.
Dirk wys laggend na die verskillende pantegroei: “Die reservaat het ’n groot verskeidenheid plantegroei – renos-terveld, melkbos, heuningbosveld duin-plante – maar ek weet niks van plante nie. Dié is ’n bos, daardie is ’n boom en daar is nog ’n bos.”
So in die stap vertel hy hoe die verskillende roetes hul naam gekry het: soos byvoorbeeld Slip-Slide. ’n Kort afdraand wat na die rivier loop blyk onskadelik, tot dit reën. Dan is dit gly-gly – en soms val – tot onder. Só het die deelnemers aan verlede jaar se Endurade JBayX Trail Run uitgevind.
Dié dat ’n tweede pad, Bypass, aangebring is.
Dirk beduie met sy hande: “Hier is meer as 130 voëlspesies in die reservaat: visarend, visvalk, swart oestervanger, seeswaeltjie, waterdikkop en seemeeu.
“Toegewyde voëlkykers het onlangs die groen krombekstrandloper naby die rivier gemerk – ’n unieke fonds. Dit is onbekend hoekom hy juis hier voorkom. Kenners het van heinde en verre gekom om die voël op kamera vas te lê.”
Hoewel hier bosbok, blouduiker, ystervark en skilpad voorkom, sien ons nie enige wild langs die staproete nie.
Oorkant die rivier, kronkel die pad terug na die beginpunt van die staproete.
Ons volg die roete tot by die kruispad waar ’n laagwaterbrug aangebring is, en draai links op die Dune Walk-roete wat jou tot bo-op ’n duin neem.
Oral langs die pad is houtbalke dwars in die sand geplaas, om gronderosie te help voorkom. Nog balke word vir die toekoms beoog.
Bo gekom, sit ons op ’n bankie en kyk wyd na die see – die windplaas agter ons – en asem die vars lug in.
Dirk sê: “Stappers kan tot by die see loop (Beach-stap-roete), terwyl die Lagoon Walk-roete besoekers na die Kabeljous-strandmeer neem.
Ons sit in stilte.
Dan is dit tyd vir omdraai en terugstap.
Terug by die parekeergebied is ons stil, asof ons nog ’n rukkie aan die stilte wil vasklou.
Moet weet
- Hoe kom ek daar? Daar is twee toegangspunte. Die noordelike ingang is op die R102 net buite Jeffreysbaai geleë. Na die Kabeljous-brug, kyk vir die ingang en parkeerarea na regs.
Vir die tweede ingang, parkeer by die Kabeljous-piekniekarea en stap oor die riviermonding na die duine tot by die bord wat die ingang aandui.
- Hoe fiks moet ek wees? Die verskillende staproetes het ’n opdraend of twee, maar is ’n baie maklike stap vir die hele gesin. Om al die roetes op een dag te stap, behoort jy stapfiks te wees.
- Wees voorbereid. Bring jou eie water en peuselhappies saam – daar is nie waterpunte nie.
- Nie toegelaat nie. Geen vierwielmotorfietse, veldmotorfietse, voertuie en honde word toegelaat nie. Die aansteek van ’n vuur en verwydering van plante is onwettig.
- Vir meer inligting, kontak Dirk Teubes by 082 804 7289. Besoek hul Facebook-blad by www.facebook.com/KRAG6330/.