Verkragter van baba kry lewenslank

BOOSAARDIG en pervers, het regter Irma Schoeman die verkragting van ’n baba beskryf toe sy Mzingisi Ntshontshi (50) verlede Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis het.


BOOSAARDIG en pervers, het regter Irma Schoeman die verkragting van ’n baba beskryf toe sy Mzingisi Ntshontshi (50) verlede Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis het.

Hy is aan die verkragting van ’n 19 maande oue meisie in Augustus 2018 in die Sea Vista-nedersetting naby die kusdorp St. Francisbaai skuldig bevind.

Ntshontshi is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat Schoeman geen dwingende en wesenlike omstandighede kon vind om van die minimum vonnis vir hierdie aanklag af te wyk nie.

Volgens haar het Ntshontshi geen berou getoon nie en dit blyk dat sy kanse op rehabilitasie skraal is. “Die eerste stap tot rehabilitasie is om verantwoordelikheid te aanvaar, die beskuldigde het nog nie. Hy het deurgaans sy onskuld voorgehou en die hof selfs genade gevra. Maar hy het geen genade aan sy slagoffer betoon nie en haar verlate in die bosse gelos.”

Schoeman het in die vonnisoplegging ook na die beserings van die kleuter verwys, wat volgens getuienis ’n blywende impak op haar sal hê.

In die verhoor het die hof gehoor hoe die bebloede kind huilend in die bosse naby die nedersetting aangetref is. Luidens die verslag van die hospitaal is sy vaginaal en anaal verkrag. Sy het sowat vyf uur aaneen gebloei nadat sy gevind is.

Sy moes daarna ’n dringende vaginale rekonstruksie-operasie ondergaan. Ondanks die operasie kan sy volgens getuienis as volwassene pyn tydens seksuele omgang ervaar, wat dalk tot verhoudingsprobleme kan lei.

Die verkragting het plaasgevind terwyl haar ma haar in die sorg gelaat het van haar oppas-ser se suster terwyl sy by die werk was.

Die gereelde oppasser was die betrokke dag in Port Elizabeth, maar omdat die kind se ma goed bevriend was met die gesin, is sy in die sorg van die oppasser se suster gelaat.

Ntshontshi was die gereelde oppasser se kêrel.

Die hof het ook gehoor dat hy ’n vaderfiguur vir die kleuter was en dat sy hom soms “Pappa” genoem het.

Die oppasser se suster het die betrokke dag omstreeks 06:00 in ’n nabygeleë kuierplek gaan drink, terwyl Ntshontshi saam met die baba by die huis gebly het.

Toe die suster omstreeks 08:00 terugkeer, het Ntshontshi beweer dat die ma haar kind kom haal het.

Lede van die gemeenskap het die huilende kind eers sowat agt uur later in die bosse aan-getref.

Nadat vasgestel is dat sy verkrag is, het die gemeenskap in opstand gekom en Ntshontshi met stokke en sambokke aangerand. Hy was sewe dae lank in die hospitaal voordat hy weens die verkragting in die hof kon verskyn.

Schoeman het in die vonnisoplegging ook na die polisie in St. Francisbaai gekap en gesê dit kom voor asof die polisie nie besorg is oor die vlaag van alkoholmisbruik in die gebied nie.

Sy het gesê dit het uit die getuienis geblyk dat die kuierplek ter sprake dag en nag oop is, en dat die oppasser se suster die aand voor die verkragting met die baba in die kuierplek was.

“Dit lyk nie asof die eienaar beswaar het daarteen as daar kinders in die kuierplek is nie. As die plek nie sesuur die oggend oop was nie, sou die vrou nie gaan drink het nie en die be-skuldigde sou nie sy gemene daad gepleeg het nie.”

Schoeman het gevra of die kuierplek gelisensieerd is en indien nie, hoekom dit nie toegemaak word nie, want alkoholmisbruik hou regstreeks met ander misdade verband.

Volgens haar toon die polisie se misdaadsta-tistieke vir die betrokke tydperk in dié polisiegebied ’n toename van 120% in verkragtingsake.

Schoeman het verlede Woensdag ook Ntshontshi se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis van die hand gewys. Volgens haar sal geen ander hof tot ’n ander beslissing kom nie.

You need to be Logged In to leave a comment.