Wanneer die einde van die jaar nader kom, en mens se spanning soms knoppe maak in jou nek en rug, smag mens dikwels na ‘n massering en om gepamperlang te word.
Jy visualiseer hoe iemand met sagte hande oor jou vel sal streel en die knoppe sagkens wegvryf. Maar o wee… dit kan ‘n pynlike affêre word.

Tydens ‘n vakansie in Phuket was ons na een van die aanloklike masseersalonne. Ek het die prentjie in my kop gehad van ‘n rustige, ontspanne ervaring.
Die jong Asiatiese meisies was ywerig om ons te bederf. Die sagte musiek, eintlik klanke, van kabbelende water en voëlgesang het die regte atmosfeer geskep. Die sagte beligting het die atmosfeer geskep vir ‘n gepamperlang soos min. En die reuk van geurige olies het ons laat ontspan.
Eers lê ons op die maag met die gesig oor ‘n opening vir maklike asemhaling. Op die vloer is daar dan ‘n bakkie met ‘n geurige kersie wat brand en welriekende frangipaniblommetjies daarby.
Die meisie begin sagkens met haar vaardige hande om warm olie oor my rug en nek te smeer in halfsirkel bewegings. Dis hemels! Dan my bene en arms. Ek kon voel hoe die spanning uit my liggaam verdwyn.
En dan… Klim sy wydsbeen op my rug en bewerk my rug met haar elmboë. O jitte…dis seer, maar ook ‘n aangename seer. Ek besef geen knop gaan na hierdie gekniëry oorbly nie. Ek knyp maar my oë en lippe toe. “Dit sal seker gou oor en verby wees…hou net uit!” Maar die intensiteit verhoog. Ek is oortuig daarvan ek gaan potblou kneusmerke hê hierna!
Toe ek my kop effens draai na my vriend se kant toe nadat ek ‘n gekreun hoor, sien ek hoe sy masseuse met haar knieë sy rug bewerk! Gelukkig het ek dié prosedure vrygespring. Die res van die pamperlang op die arms en bene was aangenaam.
Op ‘n keer het my buurvrou Zieta my saamgeneem om ons beenhare te laat waks (ek het nog altyd die meer primitiewe manier van skeer gedoen).
Nou, ek het al baie pyn in my lewe verduur met frakture en operasies, maar dié pyn was net te erg. Die trane het oor my wange gerol. Nadat die skoonheidsterapeut die tweede strook waks aftrek, het ek maar opgegee en tuis die bene glad gekry.
Ek sien soms deur die venster van die manshaarkapper hoe die mans se oë traan as die stokkies met waks aan uit hulle neusgate en ore gepluk word om die hare te verwyder. Dis eintlik bewonderenswaardig dat mans die pyniging deurmaak om netjies te lyk.
My matriekmaat Erika en ek was saam vir ‘n gesigbehandeling by ‘n spoggerige spa in Johannesburg. Dit was ‘n lieflike belewenis, en ek het gewens dit moet nog ‘n bietjie langer duur. Ek wou my so graag oorgee aan die lomerigheid.
Om ‘n manikuur en pedikuur te laat doen is ook aangenaam. ‘n Mens het sommer ‘n wip in die stap en het ‘n ligter gemoed na al die aanraking. Ons vel is immers ons grootste sintuig, en orgaan wat versorg moet word.
Dankie aan al die terapeute wat kans sien om so intiem met mense te werk.



You must be logged in to post a comment.