Die is ‘n voldonge feit dat ons almal van geweet wil wees. Al is jy hoe skaam, die grootste introvert of kluisenaar – daar kom tye en geleenthede waar jy ook in tel wil wees, wil aandag hê en van geweet wees. Natuurlik is dit ook so dat daar verskillende persoonlikheidstipes is en party het ‘n veel groter behoefte aan aandag as ander.
Dit verstom my altyd as akteurs vertel hulle is eintlik baie skaam, anti-sosiaal, hou nie juis van mense nie, kwalifiseer as introverte, en verkies dikwels om in afsondering te bly…. Ver weg van mense en hulle dinge. Maar dan sien mens hulle in die kollig, op die verhoog of televisieskerm. En waar wil jy nou duideliker raakgesien wees as hier?
Ander mense verkies om met tatoeërmerke raakgesien te word. Daardie opsigtelike blou ‘sleeves’ van sommiges, trek mos nou baie aandag. Die gewone mens kan nie anders as om dit raak te sien nie. Nuuskierige mense soos ek (wat glo dit het ‘n dieper betekenis), sal beslis uitvra. Ook die kleiner tatoeërmerke het al interessante gesprekke tot gevolg gehad. Elkeen met ek al ‘n gesprek aangeknoop het hieroor, was gretig om te vertel.
Dan is daar ook dié wat aandag trek met vreemde haarstyle. Of kleure. Deesdae sien mense dikwels die haarstyle wat kort aan die kante geskeer is met ‘n weligheid bo op die kop. Dis nou mode, maar trek steeds aandag. As jou hare pers gekleur is, of nog beter, verskillende kleure, dan moet jy die aandag wat na jou kant toe kom, kan vát.
Verspotte kleredrag trek nie meer so baie aandag nie, maar as mens darem so te sê kaal is, gaan die koppe draai, en kan jy nie wil skaam wees nie. Soos ons onlangs nog in die media die rapper Khanyi West kaalbas nooi gesien het…net met bietjie gaas hier en daar.
Skoolkinders het veral ‘n groot behoefte aan erkenning, veral van hulle maats. Party kinders sal hou van positiewe erkenning deur te presteer. Maar ander kere sal kinders seker maak hulle trek aandag deur stout te wees. Bendes is alombekend daarvoor dat die lede belangrik voel, en dat hulle êrens hoort. Soms eskaleer die behoefte aan ‘van geweet wees’ tot misdaad.
Dan is daar die gewilde manier om raakgesien te word. En dit is om ‘n ‘smaakmaker’op sosiale media te wees. Genugtig! Ek het die afgelope tyd ‘n paar dopgehou en dit het my erg verveel. Wie stel nou belang daarin om iemand dop te hou wat minute lank oopmond ‘n pizza sit en eet? Dis nou wel ‘n verskuilde advertensie vir die pizza soort.
Maar regtig. Inisiatief is maar skraal. ‘n Ander ‘adverteer’ klere, wat gepaard gaan met spastiese bewegings en dowwe gesigsuitdrukkings. Om van selfies met getuite lippe nie eers te praat nie! Die wat dit gebruik vir humor, soos komediante, se volgelinge styg die hoogte in.
Natuurlik is daar ander wat die medium sorgvuldig en professioneel gebruik. Daar is kunstenaars wat hulle werke bekendstel op kreatiewe maniere, en lewensafrigters wat pittige brokkies deel. Dit kan nogal ‘n mens se tyd steel om deur die warboel op sosiale media te soek na iets sinvol. Tensy jy weet wie om te volg.
Almal wil van geweet wees.