road trip pixabay
Foto ter illustrasie. FOTO: TEKHNIKA/PIXABAY Credit: TEKHNIKA/PIXABAY / Pixabay

Om ‘n afgetredene te wees en nie meer gebonde te wees aan spertye en afsprake nie, is ‘n reusevoorreg.

Net so is dit ‘n seëning om ‘n paar sente te hê en ‘n betroubare voertuig om die lang pad te vat na wie weet waar.

Met familie op Hermanus en liewe maters oral langs die Tuinroete, het ek weer die tas gepak en gemik vir die Kalfiefees.

Kuier-kuier ry ek gewoonlik en besoek kenisse en vriende op die pad. By sommiges drink ek net koffie, en by ander slaap ek oor. Met verlede jaar se sloertoer het ek by altesaam vyftien mense aangedoen.

Ek glo daaraan om die rit die moeite werd te maak in die lig van die uitgawe, afstand en tyd op die pad.

Wanneer ek op Jeffreysbaai vertrek is die eerste stop gewoonlik by Stormsrivier vir koffie en bene rek. Dan vat ek die pad verder verby die lowergroen dennewoude en lieflike fynbos. Deur die tolhek en dan is dit een stryk deur Kaap se kant toe.

Al is die pad verby Sedgefield, Knysna en Wildernis skilderagtig, is dit weens die wisselende spoedbeperkings ‘n uitdagende roete.

Dis selde dat ek hier ‘n spoedboete vryspring! Daarom het ek dié keer liefs binneland om gery deur die vrugbare Langkloof, Joubertina (wat terloops die enigste dorp in die land is met al die klinkers van die alfabet), is ‘n goeie stilhouplek.

Dan verby die dorpe wat sowaar alfabeties volg: Kareedouw, Louterwater en Misgund.

Die vrugtebome se bloeisels is deesdae grootliks versteek onder nette, maar dis steeds ‘n pragtige vallei!

Dis so opvallend hoe die padoppervlakte verander waar die Oos-Kaap eindig en die Wes-Kaap begin! Behalwe dat die teer opsigtelik verskil, is daar opeens geen slaggate verder nie.

Dan oor die asemrowende Outeniqua bergpas George toe. Die N2 lê soos ‘n swart lint voor jou uitgestrek. Duskant Swellendam lê die golwende geel canolalande. Dit is absoluut ‘n lus vir die oog. Mens wil heeltyd stop en die prag afneem, Gelukkig hou dit kilometers aan. ‘n Mens kan nie genoeg daarvan sien nie.

Die speellys wat ek saamgestel het vir die reis op my foon, speel mooi saam met die ritme van die pad. Jy begin later een voel met die pad.

Jou lyf gee mee om die egalige draaie,vingers speel klavier op die stuurwiel en gedagtes sweef oor die bloue berge. Dit maak my gelukkig.

Die roete-aanwysing neem my op ‘n pad deur Caledon. My hart bons van vreugde om weer deur die Hemel-en-Aarde Vallei te ry.

Die natuurskoon en landbougewasse omvou jou.

Ek sing hartlik saam met die liedjies op die speellys. ‘n Uitbundigheid bruis in my. Ook dankbaarheid dat ek, met my Maltese brakkie, Fielies Fourie, hierdie skoonheid kan ervaar.

Dan verwelkom die see en berge by Hermanus ons. Die gulhartigheid waarmee die niggies ons ontvang, is die eerste prys!

Dan besef ek skielik dat ek voorspoedig gereis het, soos telkemale tevore. Nooit het ek eers gedink aan teëspoed nie.

En dis net daar dat my motor se knormoer besluit om my nederig en dankbaar te hou.

Vat gerus die lang pad!

• Lees meer van VERONICA VERTEL se verhale hier, hier of hier . . .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article