Verpleeg-engele help bejaardes Covid-19 verstaan

MET haar goue hare en deernisvolle gesig, is suster Amelia Coetsee (48) ’n verpleeg-engel.


MET haar goue hare en deernisvolle gesig, is suster Amelia Coetsee (48) ’n verpleeg-engel.

Inwoners het dié knap bestuurder van Link Verpleegdienste op Jeffreysbaai se deugde op sosiale media besing nadat Coetsee en haar personeel op eNuus, KykNet verskyn het.

Die onderhoud het bejaardes se aanpassingsprobleme en onbegrip van die Covid-19 pandemie en die gevolg-like inperking belig – en hoe die Link-span dit stroomlyn.

Die mense in hul sorg ly aan Parkinsons, demensies – byvoorbeeld Alzheimer’s – en kanker. Daar is ook dié wat nie meer selfsorg kan volhou nie.

Coetsee sê in die opname dat die bejaardes nie die onverwagte veranderinge weens die grendeltyd verstaan het nie, soos die versorgers se maskerdraery, waarom familie nie mag kuier, of hulle kan uitgaan nie. Veral die met Alzheimer’s onthou nie wat die vorige dag verduidelik is nie. “Dan moet ons dit weer doen.”

Rolmodel

Op sosiale media gons dit oor haar.

“Jy het ons dorp weer trots gemaak,” sê Chris de Vos. Hy vertrou dat haar positiewe lewenswyse andere se beskouing van Jeffreysbaai sal raak. Volgens hom is sy die rolmodel van die week.

Coetsee en haar span word “aardse engele” genoem.

Iris Gilbert van Kouga Funerals noem Coetsee ook ’n engel. “Haar passie vir wat sy doen, is ongelooflik.” Jeanette Botha sê dat hulle die ruggraat van die dorp is. “Julle mooi gesindheid en empatie is prysenswaardig.”

Die begin

Coetsee, gebore en getoë in Pretoria, vertel: “Ek wou medies studeer, maar het met verpleging begin – en toe hou ek nie op nie.”

Haar opleiding was by HF Verwoerd, waarna sy die ander hospitale in die stad deurgewerk het.

Die ma van drie dogters (onderskeidelik 23, 16 en 12 jaar oud) noem haarself ewe guitig ’n “pringle”, of-tewel ’n “professional single”. Haar oudste swot onderwys in Port Elizabeth, die ander is op skool.

Hulle het sewe jaar gelede na Jeffreys verhuis. Na twee jaar by Isivivana Hospitaal op Humansdorp, het Coetsee die agentskap begin. Sy wou halt roep by 30 versorgers, maar daar is nou byna 70.

“Daar is ‘n enorme behoefte na die diens, want plek is erg beperk by ouetehuise en in siekeboeg-fasiliteite. Mense neig al hoe meer na tuisversorging.”

Agentskap

Moses van Staden, een van die versorgers, merk op dat die lewenssiklus bejaardes byna weer by kindskap uitbring. “Hulle kan aanvoel wanneer daar warm liefde en omgee is. Jy moet jou pasiënt se vertroue wen.”

Die variasie waarmee die versorg-ers elke dag te doen kry, die persoonlikhede en die wedersydse respek is sigbaar. Menissa September sê as sy iemand versorg, is dit asof sy haar moeder versorg. “Die iets ekstra wat elke versorger bydra, beur die bejaardes op in hierdie uitdagende tyd.”

Coetsee het byvoorbeeld ’n kunstenaar ingetrek (met permit) om die oues te laat skets en verf. “Die prentjies is in hul kamers opgesit, en dit doen soveel vir hulle gemoed,” sê sy.

Volgens Coetsee is begrafnisse is hartseerder in die tyd. “Daar is nie kerk of gesing of behoorlike afskeid nie. Dis asof mens nie reg laat geskied aan die nagedagtenis nie. “En ook die versorgers vind dat dit ’n persoonlike verlies is.”

Hindernisse in die moeilike tyd word oorkom deur die personeel se onbaatsugtige deernis.

Coetsee sê: “Ons is intiem betrokke by elkeen. Versorgers vee hul mensies se trane af, maak skoon agter hulle, doen hare en naels, lei hulle en lees vir hulle Bybel. Dit is persoonlik.”

“En dit is ‘n voorreg . . .”

You need to be Logged In to leave a comment.