DIE Kultuursentrum in Humansdorp was eens ’n simbool van kulturele diversiteit, ’n viering van erfenis en ’n toerisme-inspuiting vir Humansdorp.
Dit is egter ver verwyder van die realiteit wat ons vandag daar sien staan.
Die kultuursentrum is haarfyn beplan voor dit in 2002 opgerig is. Dit is noukeurig ontwerp om in elke element daarvan Afrika-simboliek te inkorporeer: van die vorm van die geboue en hul dakke, die simbole wat op die vensters aan-gebring is, tot die hoeveelheid ringe rondom die koepel wat die vloer van die hoofgebou uitmaak.
Materiale en konstruksiemetodes is spesifiek gekies om volhoubare Afrika-boumetodes te inkorporeer. Vroue van verskillende sosio-ekonomiese agtergronde het saamgewerk om die gebou op te rig, meestal uit saamgepersde grond, houtpale en grasse vanuit die Kouga-omgewing. Dit was voorwaar ’n geleentheid om met die ongelooflike argitektuur en simboliek te spog.
Vandag is die gebou is egter slegs ’n skynbeeld van wat dit eens was.
Nie net is daar bossies en on-kruid in die eers goedversorgde tuin nie, maar die gebou het ook nie ’n enkele venster wat heel is nie. Dié vensters wat aanvanklik pragtig versier was met Afrika-motiewe, lê nou in duisende skerwe op die grond.
Dit is nie duidelik of die binne-vloer van die gebou deur plunderaars of bloot vervallenheid uitmekaar gebreek is nie, maar talle van die vloerplanke skort en los bakstene lê oral rond.
Dat die gebou onlangs deur informele inwoners beset is, is ook baie duidelik sigbaar deur die verskeidenheid van vullis, weg-neemkoshouers en ontlasting wat in elke vertrek te vinde is.
Grafitti pryk op die mure, onder meer langs die Khoisan-kuns wat die hoofingang eens op ’n tyd trots versier het.
Onder die gebou is ’n bord wat die Kouga kultuurfees adverteer wat in Desember 2004 gehou is –soos ’n spookagtige herinnering van dae nou lank vergete.
Wat sê die Kouga Munisipaliteit?
Volgens die Kouga Munisipaliteit kan daar nie met sekerheid gesê word wanneer presies die vandalisme begin het nie, maar op ’n onlangse besoek op 23 Julie 2021, het hul gevind het dat die gebou erg beskadig is.
Volgens Uitvoerende Burgemeester, Horatio Hendricks wil dit voorkom asof dit nie gewone vandalisme is nie, maar dat daar ’n kriminele element betrokke is by die verwydering van deure, vensters, wasbakke en koper-plate.
Is daar planne om die gebou te herstel?
“Die munisipaliteit het verskillende voorstelle ontvang om die gebou op te gradeer en te herstel. Die Raad oorweeg tans die voor-gestelde opsies en sal binnekort ’n besluit neem oor die voorstel wat verkies word,” het Hendricks gesê. “Die aanvang van die opgradering sal eers bevestig word sodra die Raad die besluit ten opsigte van die voorgestelde voorstel geneem het.”
Is daar sekuriteitsmaatreëls om verdere vandalisme aan die gebou te keer?
“Ja, die Raad is besig om maat-reëls in te stel om die beskerming van die gebou op kort- en langtermyn teen dié tipe vandalisme te hanteer.”