Gereed om die naweek dié taaiste enkelskof ter wêreld aan te pak, is Jeffreysbaai-fietsryers Ted Groenewald (59), Berrie van der Westhuizen (65) en Pieter Cloete (72) van die Cyclepaths Masters-span Foto:VERSKAF


VASBYT is die wagwoord . . . en trap.

Vier plaaslike fietsryers gaan eersdaags langer as vyftien ure net trap en trap waar die bobbejaan, buffel en luiperd loer, die likkewaan sy stert klap en die slang sissend groet.

Voeg daarby klippe, moddergate, duise- lingswekkende afgronde, beenbreek-opdraendes, swets, trane, vlermuise en fnaguile. En die belangrikste van als: kameraderie.

Dit is deur die ongerepte veld van die Baviaanskloof – ’n hele 230km ver oor berg en dal – waar die super-langasems mekaar op 10 en 17 Augustus tydens Ecobound se 24-uur Trans-Baviaans bergfietswedren die stryd sal aansê.

Die Trans-Baviaans is die langste, ononderbroke bergfiets-marathon en begin in Willowmore in die weste, strek deur die Baviaanskloof en eindig in Jeffreysbaai.

Viermanskap

Gereed om die naweek dié taaiste enkelskof ter wêreld aan te pak, is Jeffreysbaai-fietsryers Ted Groenewald (59), Berrie van der Westhui-zen (64), Pieter Cloete (73) en Joseph Dauth (56).

Dié Cyclepaths Masters-span, die oudste mansspan, het verlede jaar die bergfietswedren in ’n tyd van 15 ure en 21 minute voltooi.

Cloete was die oudste fietsryer en het sy vyfde agtereenvolgende wedren voltooi – en spog met die gesogte Trans-Baviaans vyf-jaar-skild.

Sy doelwit? Om die tien-jaar-skild te verwerf.

Cloete lag: “Ek is steeds die oudste fietsryer om an die wedren deel te neem.”

Groenewald, Van der Westhuizen en Dauth trap vanjaar vir hul vyf-jaar-skild.

Roete

Net so 4km uit Willowmore vat fietsryers die Baviaanskloof-afdraai en dan klim die roete stelselmatig oor ’n afstand van 26km tot bo by die asemrowende Nuwekloofpas (sowat 1 000m bo seevlak). Vir die volgende 80km, daal die roete tot binne-in die Baviaanskloof.

Kort daarna gaan ryers die Baviaanskloof-wildernisgebied binne wat beheer word deur die Oos-Kaapse Parke-raad – ’n ongerepte stuk natuur waar wilde diere soos bokke en buffels nog volop is.

Sowat 110km van Willowmore, by Geelhoutbos, begin die roete stelselmatig uitdagender raak. Dis veral by die berugte “Moeder van alle Klimme” waar baie ryers van hul fietse afklim en moeisaam opbeur na die hoogste punt by Bergplaas, sowat 147km van Willowmore.

Vandaar is dit weer baie steil afdraandes tot in die Cambria-vallei verby sitrusplase langs die rivierbanke van die Grootrivier.

Van Komdomo volg die roete die pad na Patensie, maar net voor die afdraai na Humansdorp vat ryers ’n grondpaadjie Jeffreysbaai se kant toe. En dan, 230km verder, eindig deelnemers by Fountains Mall in Jeffreysbaai met ’n totale klim van 2 540m.

You need to be Logged In to leave a comment.