Vind stilte en die rustigheid van die natuur

DIE rooibok kyk verbaas om. Só van: Wat soek julle hier by ons só hoog in die vallei?.


DIE rooibok kyk verbaas om. Só van: Wat soek julle hier by ons só hoog in die vallei?

Dan verdwyn sy fynvoet-haastig die bosse in – kleintjie agterna . . . en nog een.

’n Bietjie vorentoe smul ’n hele trop aan voer onder die groot bome, beskut teen die warm son – al lyk grys saamgepakte wolke na reën. ’n Neushoringvoël hou ons wantrouig uit die hoogte dop. Sy helderoranje snawel hap-hap na insekte.

Helder blou-blink voëltjies vlieg voor ons verby.

En parmantige bobbejane heet ons luidkeels welkom. Of gee hulle hul misnoeë te kenne?

Lieflik en onvergeetlik, hierdie veldtonele oppad na NaguiltjieKloof Akkommodasie in die hartjie van Patensie op die stoep van die gewilde Baviaanskloof.

NaguiltjieKloof

NaguiltjieKloof op die familieplaas Roodegrond is ’n ongekunstelde selfsorg-eenheid op ’n sitrus- en aartappelplaas net 8km van Patensie af.

Die kothuis skuil tussen die bome en beskik oor twee slaapkamers, ’n badkamer met ’n stort, sitkamer en ’n ten volle toegeruste oopplan-kombuis. Daar is ’n groot braai-area en gedurende die reënseisoen vloei die rivier naby die kothuis.

Die Dover-stoof is perfek vir koue wintersdae.

Besoekers moet verkieslik oor ’n vierwiel-voertuig of minstens ’n SUV met ’n hoë grondvryhoogte beskik om die kothuis (3.3km) te bereik.

Die bekendste voëls hier is die naguiltjie wat elke aand by die kothuis kom gesels en ’n neushoringvoël wat sy skoonheid in die vensters bewonder. Die knysnaloerie bly ook hier.

Boksoorte sluit in bosbok, duiker, grysbok, klipspringer, ribbok, blouduiker, koedoe, njala en rooibok.

Kyk ook uit vir bosvarke, ape, dassies, rooikat en luiperde.

Wat NaguiltjieKloof aantreklik maak, is juis die afgesonderheid. Van ’n selfoon kan jy maar vergeet. Hier is geen opvangs nie.

Eienaar Tammy Scheepers sê: “Ons het vir jare lank dit vreeslik geniet om saam met vriende en fa-milie in die kloof te stap en om in die ongesteurde natuur te braai.

“Ons het toe besluit om die mooi en lekker met ander natuurliefhebbers te deel”

Roodegrond RivierKamp

Na vinnig uitpak, bietjie rondkyk (in verwondering oor wat hier vermag is) en ’n warm koppie koffie, vat ons die pad Roodegrond RivierKamp toe – skrikkerig dat die broodnodige reën ons onkant vang.

Dit drup-drup reeds . . .

Terug oor die kronkelpad, 300m teerpad af aan ons linkerkant. Dan weer grondpad deur die boorde tot by die rivier.

Híér loop ons plaaseienaar Stefan Scheepers raak.

Ons vra uit oor die doendinge op die plaas.

Hy glimlag breed: “Die plaas het verskeie stap- en bergfietsroetes met pragtige uitsigte.

“Die een staproete neem jou 14km berg-op. Maar wees gewaarsku, dit is moeilik – beslis nie vir begin-stappers nie.”

En die rivier?

Hy beduie met hande ver uitme-kaar: “Hier kan jy sulke groot visse vang. Veral rooistert-visse.”

Besoekers kan ook die rivier rustig op ’n kajak verken. Wees net versigtig vir die welige plantegroei.

“Ons wag vir die groot reën om die plantegroei weg te spoel, dan kan jy tot ver om die draai gaan,” sê Stefan.

Hy help ons om die kajaks in die water te kry, en los ons dan alleen.

Daar gaan ons – al wankelend. Onseker watter kant van die roeispaan voor of agter is.

Na ’n paar sirkels en groot lag, kom ons reg.

Ons druk die spane diep in die water en dadelik kry die kajak koers rivier-af.

Nie een van ons sê ’n woord nie. Al wat ons hoor is die geluid van die roeispane in die water en die sagte fluistering van die wind deur die reuse bome.

’n Eend-familie kom groet skaam, en pers-blou waterlelies pronk trots tussen die bruin plantegroei.

Stilte en saligheid.

Tyd vir omdraai, die riete versper die pad vorentoe.

Stap

Reg om die plaas verder te verken, pak ons die droë rivierloop reg by ons akkommodasie aan. Salig op ons eie tyd.

Af by die klein steilte en regs verby die kothuis.

Buk-buk onderdeur die ruig plantegroei . . . dan weer al spring-end oor die rivierklippe – mooi trap. Swart- en grysklippe vol wit “verfstrepe”. Groot en klein. Dit lyk asof ’n kunstenaar hier na hartelus rondgespeel het.

Reusagtige bome troon bo ons uit: geelhout, witstinkhout, nieshout, wilde katjiepiering, olienhout, melkhout, wildevy, gwarrie, kiepersol en perdepram.

Op pad ervaar jy die mees indrukwekkende rotsformasies. As jy stilstaan en jou oë opwaarts rig, voel jy so klein.

Dit is ook hier teen die kranse waar die boggom-boggom van tevrede bobbejane in hul eie habitat hulself laat geld.

Ons stap tot by die eerste klein waterpoel. ’n Padda spring verskrik terug in die water.

Verder stap tot by die volgende poel . . . en nog een – almal groen van lank-staan. Die droogte het sy tol geëis.

’n Verlore krap skarrel skewe-lyf by ons verby en voëls blits van tak tot tak.

As jy gelukkig is, sien jy miskien ’n bosloerie.

Ons neem foto’s met ons oë en bêre dit in ons geheue. Geen foto kan dié landskap weergee nie, en geen woord kan dit raak beskryf nie: blou bergreekse, diep klowe, ruigte, bosse en hemelhoë bome.

Die son is naby aan pajamas aantrek. Ons besluit om terug te draai.

Terug by die kothuis

Terug by die kothuis sit ons tot laataand buite terwyl ons braaivuurtjie knetter.

Die naguil roep . . . en die kriek-orkes is in volle swang. So af en toe maak ’n bobbejaan sy stem dik.

Ons kuier word een van stilte en rus.

Die Sondagoggend stap ons vir oulaas in die droë rivierloop, maar nie te ver nie . . . dan is dit tyd vir huiswaarts keer.

You need to be Logged In to leave a comment.