SY 14-dag vakansie in Suid-Amerika is ge-strek na 70 dae – met ’n mallemeule van gebeure waarvan een situasie aan ’n fliekto-neel herinner.
Ian Humphries, ’n prokureur van Jeffreysbaai, was byna in ’n penarie weens die Covid-19 pandemie wat sy wegbreek in ’n verlengde vasval-tyd verander het.
Die reis is ’n jaar vooraf bespreek, reeds betaal en sy reisagent het hom by navrae verseker alles sal klopdisselboom verloop – hy sal terug wees voor enige reisbeperkings tref.
Humphries vertel: “Ek het op 14 Maart 2020 vertrek om Argentinië, Brasilië en Chile te besoek. Dit sou ’n twee weke-lange vakansie wees en ek sou in en uit wees voor enige probleme voorkom. Boonop sou ek al die geld verloor as ek kanselleer.”
Humphries is vort na Sao Paulo, Brasilië. Na ’n voldag daar, het hy na Buenos Aires, hoofstad van Argentinië, gevlieg. Daar was hy ’n hele vier dae. “In daardie stadium was daar nog geen beperkings op enige plek nie.”
Op 20 Maart is daardie land ingeperk.
Vasval in die vreemde
Hy is effektief en bespreek dadelik sy vlug terug vir 25 Maart – die vroegste be-skikbaar.
Maar toe begin die spreekwoordelike sneeubal rol.
“My hotel het my kom wakkerklop en gesê ek moet ander blyplek kry – hulle sluit. Al die hotelle het gesluit – maar ek was gelukkig om ’n AirBnB te kry tot 25 Maart,” sê Humphries.
Drie dae voor sy terugvlug, begin die re-derye die vlugte uit Suid-Amerika een na die ander kanselleer. “Toe sluit Argentinië sy grense. Toe is ek vas.”
Daar was wel op 8 April ’n vlug van Sao Paulo na Johannesburg, maar geen manier om deur geslote grense die meer as 2 000km van Buenos Aires tot in Sao Paulo, Brasilië te oorbrug nie.
“Ek was gelukkig om te kon aanbly in die AirBnB. So, toe leef ek maar daar en hoop die grense maak oop,” vertel Humphries. ’n Maand het verloop in die vreemde waar Engels nie so handig te pas kom as wat mens sou hoop nie.
Repatriasievlug
Teen 1 Mei het hoop wel opgeflikker toe die ambassades van Argentinië, Peru en Jamaika beraadslaag het om Suid-Afrikaners met ’n privaatvlug terug huis toe te laat vlieg. Teen astronomiese koste.
Uiteindelik, op 6 Mei – na 51 dae in Buenos Aires – kon Humphries ’n sitplek op ’n repatriasievlug van Turkish Airlines tot in Sao Paulo kry. Maar die einde was nog lank nie in sig nie.
Die Jeffreysbaaier moes een nag op die Sao Paulo-lughawe vertoef en dan op 8 Mei met ’n Qatar Airways-vlug via Doha na Suid-Afrika vlieg.
Humphries vertel: “Ongelukkig word ek toe nie toegelaat op daardie vlug nie, want die Doha/Johannesburg-vlug was nie goedgekeur deur die Suid-Afrikaanse Regering nie. Gekanselleer.”
Transit-area
En net daar begin die fliektoneel . . . soos iets uit The Terminal.
“Toe is ek gestrand in die transit-area van Sao Paulo se GRU-lughawe – sonder my bagasie,” sê hy.
’n Situasie wat ’n mindere man verseker sou onderkry.
Maar die hoop beskaam nie. Op 10 Mei was daar wéér ’n vlug Doha toe. Hoopvol.
“Die keer het ek selfs al ’n instapkaart gehad. Ek kon byna die jet fuel ruik,” sê hy.
Teleurstelling tref nog ‘n maal. Humphries is weer nie toegelaat nie, want hy het volgens Qatar Airways nie klaring van sy tuisland gekry nie.
In daardie stadium het meer as een vriend op sosiale media hul frustrasie uitgespreek dat die regering weer eens vir Humphries in die steek gelaat het. “Hy bestee sy lewe daaraan om die armes en kwesbare mense in ons land te verdedig, en ek is geskok oor die wyse waarop die vlug wéér afgekeur is,” skryf een toe.
Aanhouer wen
Aanhouer wen wel . . . na tien dae in die transit-area van die lughawe, steeds sonder bagasie, was die deurbraak daar. “Uiteindelik op 15 Mei kon ek die vlug Doha toe vat. En toe Johannesburg toe,” juig Humphries.
In Johannesburg was hy vir ses dae in kwarantyn; alles uiters georganiseerd en agtermekaar. Nogtans isolasie, want kwa-rantyn het behels: As ’n “persoon onder ondersoek” mag Humphries nie uit die kamer kom nie, geen fisiese kontak met ander mense hê nie, die personeel mag nie in hul kamers kom nie en kamerskoonmaak was selfsorg.
Drie smaaklike etes per dag is aangekondig deur ’n Pavlov-klop aan die deur.
Die gesondheidsdepartement het sy temperatuur tweekeer per dag kom neem.
Ten minste was die aanlynfasiliteite goed.
Na ’n privaat Covid-19 toets, was die uitslae in sy guns, en hy kon die finale been van die láng vakansie aanpak.
Uitendelik by die huis
Nie die ideale vervoer nie, maar ten minste oppad huis toe. Die ironie is enorm: die bus het drie keer gebreek. Eers ‘n pap band in Vanderbijlpark, toe die alternator naby Ventersburg.
“Ons moes vir twee ure in die nag naby Ventersburg vir ’n nuwe bus wag,” sê Humphries oor die laaste deel van die uitgerekte reis. “Die rit van Johannesburg tot in Jeffreysbaai het letterlik 24 uur gevat.”
“Maar ek kla nie. Ek was toe Uitendelik by die huis!”