Voëls afgemaai deur skuts

VOËLS word afgemaai deur ‘n snellerverskrikte skuts by die dammetjie in Wavecrest, Jeffreysbaai.


VOËLS word afgemaai deur ‘n snellerverskrikte skuts by die dammetjie in Wavecrest, Jeffreysbaai.

“Ek was nog nooit so opgewonde om afskeid te neem van my geld soos in dié geval nie,” sê diere-aktivis Suzanne Kruger oor die allemintige R2 000-beloning wat sy aanbied vir enige inligting oor die vermeende voël-afmaaier.

Maar, helaas, tot dusver nog géén getuie, inligting of oproep van enige aard nie. Suzanne sê vroeër die week dat dit haar dronkslaan dat niemand nog na vore gekom het nie.

Neels Stroebel het die saak eerste geopper nadat hy karkasse van hadedas by ’n dammetjie in Wavecrest gevind het. “Hy skiet met ’n windbuks – ek dink aan Poplarstraat se kant. Ek het self gesien hoe word een gekwes en fladder gewond in die bos in.” Twee ander het dood op ’n huis se dak gelê.

By navrae sê Neels dat dit tans effens stiller is na al die bohaai en dreigemente op sosiale media.

Die gemeenskap roep eendragtig uit teen die oortreder, en beroep hulle op die DBV, natuurbewaring, polisie en wetstoepassers om die “lafaard, barbaarse moordenaar” vas te trek en in hegtenis te neem.

“Dit is belaglik,” sê Hulde Jones. “Daar is kinders wat daar visvang. Wat gebeur as een van hulle seerkry?”

Wilma le Roux sê: “As ons met hom klaar is, sal hy nooit weer ’n behoefte hê om ’n dier te skiet nie.”

Volgens Pieter van Straaten het sy vrou op mense geskreeu wat van ’n bootjie in die nag op voëls geskiet het. Dit is glo by die Kouga-munisipaliteit en andere aangemeld.

Die sinnelose dade word aktief in die gemeenskap teegestaan. Wynand Britz skryf hy het die ingang na die damwal vanuit Bushwillowstraat met ’n hek en slot toegemaak. “As die munisipaliteit wil toegang hê, kan hulle daar in. Daar moet gepoog word om dieselfde vanaf die Poplar-ingang te doen.”

Volgens Britz is die bome langs die damwal ’n paradys vir voëllewe. “Ongeveer 150 tortelduiwe slaap hier en dit was ook ’n broeiplek vir hadidas. Tans bly en broei sowat 12 soorte geveerdes hier. Dit is bedags die uile se slaapplek. Help asseblief!”

Natania Mostert vra waarom iemand soiets sal doen wat ’n voël van sy lewensmaat sal beroof.

’n Oproep is gemaak om die oortreder te identifiseer, maar volgens Neels maak hulle nog eers seker daarvan. Die karkasse is verwyder en na ’n veearts vir ondersoek geneem, maar daar is nie uitsluitsel oor die voorvalle nie.

You need to be Logged In to leave a comment.