CINDY Smit van Jeffreysbaai red voëls van ‘n gewisse dood.
Oorspronklik van die Vrystaat, is sy later na Vanderbijlpark, maar Cindy is goed ingeburger want sy is reeds 12 jaar op Jeffreysbaai.
As sy nie geveerdes uitred nie, werk sy by die onontbeerlike Jbay Trauma Support Centre. Sy is beskeie oor haar passie en liefdeswerk.
Vanwaar die liefde vir voëls? “My liefde vir voëls kom van my pa af – eintlik vir enige dier – maar voëls is net ongelooflik,” vertel Cindy. “My pa en sy ouers het maar altyd voëls gehad, en hy het my geleer hoe om babavoëltjies te voer.”
Cindy gee hand met alle diere in nood en het vir ’n ruk met ’n organisasie in die informele gemeenskap uitgereik. Dit was vir haar “hartverskeurend” en het later eerder net diere tydelik gehuisves.
“Ek help ook waar ek kan, maar hier is min mense wat voëls help, en ek weet hóé. So, ek het begin aanbied om te help – nou is dit deel van my lewe,” vertel sy.
“Trumie Viljoen by Mugg & Bean doen seevoëls en ek meer binnelandse, kleiner voëls.”
Op die vraag waar sy die “afvlerk-voëls” kry, sê Cindy dat hulle van oral kom: “Meestal van Oribi Dierehospitaal en Cape Cross. Of van mense op Facebook wat vra, ‘waarheen met die voël?’ Of die wat weet dat ek voëls invat.”
Dan is daar dié wat deur diere-aktivis en weldoener Suzanne Kruger gered word. “Sy laat my net weet dat sy vir my iets in die mikrogolfoond het . . . Met al haar katte, is dit die enigste (tydelike) plek waar die voëls vei-lig is,” lag Cindy.
Die voëls wat deurgehaal word, word vrygelaat, maar soms kry sy daardie één wat nie ‘n kans het nie. “So hard as wat ek probeer om die outjie deur te trek, maak hy dit nie.”
Cindy vind dit verskriklik as ‘n dier onno-dig ly, maar vertel dat Oribi haar nog “altyd tegemoet gekom het om hulle dan ‘n genadedood te gee”.
Sy juig oor die mooiste voëlhok wat Graham Shaw geskenk het.
“Ek is baie geseënd. Hy het dit al die pad gaan haal in Uitenhage en vir my kom aflaai. Nou kan ek soveel meer doen.”