OUTYDS? Harde werk? Allermins. Voetslaan/Hiking SA is ’n inisiatief wat ontspanning en plesier kombineer om vir wandelaars gesonde oefening en natuurbewustheid te laat ervaar.
Victor Cunningham, visepresident, verskaf die volgende interessante besonderhede:
- Vanwaar die konsep? Die Otter-wandelpad in Tsitsikamma is in 1968 geskep uit ou vissermanspaadjies. Dit is vandag ’n Groenvlag-geakkrediteerde roete. Danie Ackerman het in 1972 onder die Departement van Bosbou ’n staproete in die Sabie-distrik beplan. JH Kemp het hierna oorgeneem ná ’n studiereis in die VSA om te sien hoe mense daar hul vryetyd in die natuur benut. Hieruit het in 1973 SA se eerste amptelike wandelpad ontstaan. Uit dié Fanie Botha-roete het die konsep veld gewen en het ou en nuwe roetes onder die nuutgestigte Voetslaan SA ’n florerende bedryf geword.
- Voetslaan/Hiking SA wil ’n werkbare platform skep wat alle fasette van dié ontspanning en insette van deelnemers kan koördineer. Hul visie behels verder die betrokkenheid van die regering vir die amptelike erkenning van voetslaan as ’n sport. Hulle voorsien om hierdeur toerisme te stimuleer en werkskepping te bevorder.
- ’n Nasionale komitee bedryf die groep se werksaamhede, en instansies wat saamwerk, is o.a. SANParke, SAFCOL, MTO, CapeNature, Mpumalanga en Limpopo Parkerade, Ezemvelo/KZN WILDLIFE en private wandelpad-eienaars.
- Victor Cunningham is ook streeksvoorsitter van die Suid-Kaap Komitee wat deur staats- en semi-staatsinstellings maandeliks roetes nagaan en dan verslag aan roete-eienaars en die nasionale uitvoerende komitee doen.
- Belangstellendes in die Kouga-streek ontmoet op 19 Mei die Suid-Kaapstreek se verteenwoordigers. Hulle hoop om hieruit ’n klub te stig wat dagwandelpaaie en later oornagroetes kan verken. Skakel Nadeem Uithaler 073 119 3434 of 042 200 3477 vir inligting.
- Die Suid-Kaapstreek besoek op 12 Mei die Pied Kingfisher-roete in die Wildernis Nasionale Park. Volg hulle op www.facebook.com/hosasoutherscape
Belangstellendes kan Victor Cunningham by 083 7391558 skakel. Voetslaanpad-eienaars kan dieselfde nommer skakel vir informasie rakende die akkreditasieproses.