lumar karolse, pieter pretorius
Pieter Pretorius oorhandig die skoene aan Lumar Karolse.

JEFFREYSBAAI – Die opwinding en verbasing toe ‘n Vrystaatse boer en sy vrou onlangs onverwags R5,000 aan ‘n belowende jong sportster van Jeffreysbaai geskenk het, het sy hoogtepunt bereik toe nuwe gewigoptelskoene amptelik aan hom oorhandig is.

Kouga Express het voorheen berig dat Lumar Karolse, die Suid-Afrikaanse o.14-kampioen van die Laerskool Pellsrus op die dorp, moes tot dusver met skoolskoene en ‘n geleende gewigoptel-uitrusting aan die nasionale kampioenskappe deelneem.

Terwyl van sy spanmaats gestaan en toekyk het, het die afrigter, Pieter Pretorius, die skoene aan hom oorhandig.

Pieter Pretorius oorhandig skoene aan Lumar Karolse
Pieter Pretorius oorhandig die skoene aan Lumar Karolse. Foto: Verskaf

Terwyl Karolse tranerig voorgekom het, het sy spanmaats almal breed gestaan en glimlag. “Ja, dit was maar vir almal ‘n emosionele oomblik,” sê Pretorius.

Op ‘n vraag oor hoe hy gevoel het tydens die oorhandiging, sê hy: “Ek is baie, baie bly vir hom. Hy verdien dit. Niemand in die gym werk so hard soos hy nie.

“Dis egter ook hartseer dat ek nie vir almal ‘n paar gewigoptel skoene kon oorhandig nie. Ek sê mos altyd ons is ‘n span en dit is ‘n groot deel van ons sukses. Almal vir een en een vir almal. Ons elkeen gee energie aan die ander.”

Oomblikke na die oorhandiging het Karolse ten aanskoue van almal die skoene aangetrek en die gevoel gekry toe hy gewigte begin opstoot het.

lumar karolse nuwe skoene
Lumar Karolse trek sy nuwe skoene aan. Foto: Verskaf

Pretorius sê die skoene gaan tot groot voordeel van Karolse wees en dat hy eerder vroeër as later sy totale gaan begin verbeter.

Hy sal by die volgende provinsiale en nasionale kampioenskappe nou verder kan wegtrek van sy naaste teenstanders.

Intussen sê Pretorius hy is uiters opgewonde oor die moontlikhede van vier laerskoolleerders wat nog almal jonger as tien jaar oud is en reeds die verbeelding van plaaslike ondersteuners aangegryp het.

Hulle is:

  • Chester Karolse (7), jonger broer van Lumar, wat op 4 Augustus vanjaar die eerste keer begin oefen het, maar reeds merkwaardige krag vir so ‘n kleintjie wys;
  • Kenneth Mandeka (7), wat op 4 Augustus die eerste keer gewigte in sy hande gehad het en groot belofte toon;
  • Sue–Ann Windvogel (8), wat op 6 Oktober begin oefen het, maar reeds geweldige plofbare krag wys;
  • Declan Titus (9), wat op 15 Julie begin oefen het nadat hy as ‘n naelloper begin naam maak het. Hy kan een van die verrassingspakette in 2026 wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article