Daar was vreugde en trane toe ‘n boer van die Vrystaat R5,000 geskenk het om vir die Jeffreysbaai-gewigopteller Lumar Karolse uitrusting aan te koop.
Die 12-jarige gr. 6-leerling aan die Laerskool Pellsrus het onlangs die Suid-Afrikaanse o.14-titel gewen nadat hy met skoolskoene en ‘n geleende gewigoptel-uitrusting aan die nasionale junior kampioenskappe in die Kaap moes deelneem.

Karolse se afrigter, Pieter Pretorius, sê: “‘n Vrou het my Saterdagoggend gebel en gevra of sy en haar man my gou kan kom sien.
“Ek was oorweldig toe die boer wat op Jeffreysbaai vakansie gehou het, R5,000 in my hand stop om vir Lumar sy eie gewigoptelskoene en suit te koop.
“Ek het trane in my oë gekry en kon nie glo wat besig was om voor my af te speel nie.
“Wat ‘n verrassing was dit nie. Sommer so uit die bloute uit toe niemand dit verwag het nie.
“Prys die Here vir sy genade. En ja, daar is nog goeie mense daar buite.
“Die berig wat in die Kouga Express verskyn het waarin gesê is dat Lumar die SA titel met skoolskoene en ‘n geleende suit gewen het, het vir ons deure oopgemaak. Ons is almal ongelooflik dankbaar daarvoor.”
Op ‘n vraag oor hoe Lumar oor die nuus gereageer het, sê Pretorius: “Hy was geskok, verbaas, maar ook oorweldig van vreugde.
“Hy was die ene smiles. En kon die dankbaarheid in sy oë sien. Daar is nog ander van my atlete wat finansiële bystand nodig het, maar ons bly glo en neem dit dag vir dag. Uiteraard kan Lumar nie wag vir sy volgende kompetisie nie. Ek weet hy gaan sommer baie grênd lyk in sy skoene en suit.”
Pretorius sê die vriendelike skenker het verkies om anoniem te bly.






You must be logged in to post a comment.