SY neem katte in nood aan.

Sy dokter hulle met liefde en voer hulle gesond, en gee hulle ’n tuiste vol deernis.

Maar die afgelope maande het ’n nagmerrie ontvou waar haar viervoetiges een na die ander “verdwyn”, en haar rasend laat.

Die raaisel is opgelos toe die laaste een bebloed met ’n koeël in die nek op haar huisstoep gevind is. Dit blyk dat ’n gevoellose hater – moontlik in die straat – die katte koelbloe-dig skiet en laat hulle dan verdwyn.

Cassandra Camons van Koraalstraat in C-Plek, in Jeffreysbaai sê sy is steeds in ’n skoktoestand sedert haar eerste katkind tussen neus en ore weg is.

“Hulle is al wat ek het,” sê die sagte vrou met ’n hart vir diere.

Met die eerste geval het sy onmiddellik diereregte-yweraar Suzanne Kruger en vriende se hulp ingeroep. Die soektog het deur die nag geduur, maar selfs ’n nag sonder slaap en gewoonlik suksesvolle plasings op sosiale media, het niks opgelewer nie.

“Dit is soos om my kind te verloor,” vertel Camons.

Maar dit was nie die einde van die verlies nie. Skaars twee weke later is die tweede kat vort. Al die vriende het saamgesoek en –gehuil. “Ons het lóóp en soek, maar niks . . .”

Dit was vir haar ’n tragedie, maar toe die derde katjie binne weke ook weg is, kon die betrokkenes die omvang van die krisis nie glo nie.

In daardie stadium het hulle na-vrae by die gereg gedoen, maar die terugvoering was dat ’n ondersoek net moontlik is indien ’n karkas en wapen of koeël gevind word. Selfs dan kan die aanklag slegs wees dat ’n wapen in ‘n beboude gebied afgevuur is.

Die enigste leidraad was van ’n werknemer by ’n hardewarewinkel wat rapporteer het dat ’n klant wat ’n hoëspoed windbuks daar gekoop het, sou gesê het dat hy nou die bure se katte kan uitsorteer. Die persoon woon glo in dieselfde straat.

Radeloos oor die dieremoorde, vra Cassandra: “Watter soort mens doen so iets? Waarom sal enigiemand onskuldige diere van kant wil maak? Waarom moet ons sulke wreedheid verdra?”

VERVOLG OP BLADSY 3

You need to be Logged In to leave a comment.