DIE eerste keer toe ’n Marokkaanse avonturier sy fiets op sy Afrika-toer met ’n slot sluit, word dit gesteel.
Dit was in die gewilde Oos-Kaapse vakansiedorp Jeffreysbaai.
Yassine Ghallam (32) het al sowat 23 500 km op die saal van ’n fiets bestee terwyl hy Afrika verken.
Hy het die ekspedisie, wat in Januarie 2017 begin het, aangepak sodat hy eendag boeke oor die wêreld se verskillende kulture kan skryf, sê hy.
Maar Vrydag is sy reis deur ’n fietsdief onderbreek.
Hy het sy fiets voor Jeffreysbaai se Islamitiese Sentrum vasgemaak om die sentrum te gaan verken.
“Ek was binne tien minute weer buite en my fiets is in daardie tyd gesteel. Ek kon dit nie glo nie.
“Gelukkig was my bagasie nie daarop nie,” sê Ghallam.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n saak is Sondag aanhangig gemaak, maar die fiets is nog nie teruggevind nie.
Ghallam sê hy is gewaarsku oor misdaad in die gebied en daarom het hy sy fiets vasgemaak.
“Ek het al deur baie plekke in Afrika gery, insluitend Ghana, Nigerië, Gaboen, die Kongo, Angola en Namibië. Van al die plekke waar ek was, het ek nie gedink dit sal hier (in Jeffreysbaai) gebeur nie.”
Ghallam sê hy het die fiets in ’n toerfiets met rakke omskep om sy tent, kombuisgoed, slaapsak en klere van 68 kg te kan dra.
“Die fiets noem ek Mama Africa en dit is soos my vrou. Sy is heelpad saam met my.”
Ghallam sê hoewel Mama Africa al sy “tweede vrou” is nadat hy in ’n ligte botsing in Nigerië betrokke was, was dié sy gunsteling.
“My eerste fiets is in Nigerië afgeskryf. ’n Motor het oor die fiets gery en ek moes ’n nuwe een kry.
“Ek het gehoop die tweede fiets, my tweede vrou, sal my deursien op die Afrika-toer. Ek hoop nou die derde vrou is die een wat ek kan hou,” skerts Ghallam.
Hy sê ’n radiostasie in Johannesburg het intussen aangebied om hom te help om ’n nuwe fiets te koop.
“Fietse is baie duur, maar ek moet ’n fiets kry om my toer te voltooi. Ek gaan nie hierdeur gestop word nie, want daar is nog so baie wat ek wil sien.
“ ’n Mens kan nie in dieselfde land gebore word en doodgaan nie. Die wêreld is te groot daarvoor.”
Sodra Ghallam sy nuwe fiets kry, is hy van plan om koers te kies na George, Knysna en Kaapstad.
“Kaapstad is die een plek in Afrika waarvan ek droom. Dit is my eindpunt hier. Daarna vlieg ek na Madagaskar, dan die Seychelle-eilande en laastens Tanzanië.”
Ghallam wil daarna Suid-Amerika op sy fiets verken.