HY is ’n man van twee wêrelde – Vuyane Grootboom wat in Februarie 2015 as permanente petroljoggie by die Humansdorp-Koöperasie begin werk het, het in dieselfde jaar lid geword het van die Zwartenbosch-gholfklub.
As hy nie sy daaglikse brood verdien by CBF-motors nie, is hy op die gholfbaan as entoesiastiese speler.
Dié veelsydige sportman wat tans met ’n ses-voorgee speel en deur Hannes Ferreira bygestaan word as mentor, neem vir die laaste twee jaar deel aan die Race to Dubai-toernooi wat vanjaar in Durbanville, de Zalze en Paarlvallei afgespeel het. Grootboom het dié keer vyfde geëindig uit ’n groep van sestien spelers.
Hy het op 12 jaar al as baljoggie begin diens doen en op die ouderdom van 30 begin speel.
Dié boorling van Hankey wat vanjaar 41 word, se volgende doelwit is om vir die OP-span gekies te word.
Die Race to Dubai-groep het vanjaar na ’n verdere vlak beweeg, naamlik ’n konstitisionele prosedure waaraan alle lede onderworpe is. Dit behels ’n puntetellinghulpkaart wat spelers leer om tydens spel behoorlike telling te hou.
Die groep, sowel as Grootboom, is vol lof en waardering oor hulp wat hulle van borge en rolspelers ontvang.