Ná vele uitdagings het Estie Wagner (50) haar B.Ed-graad (honeurs) by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ontvang. Vandag gee sy onderwys by die Patensie Landbous Hoërskool. foto:MONIQUE BASSON


OF dit nou vir die melk van ’n koei is, die inenting van ’n siek skaap of die plant van groente, jy kan maar weet dat jy Estie Wagner (50) óf in haar klaskamer óf in die tuin sal aantref.

Want dié oud-boervrou se besigheid is om leerders meer oor landbou te leer. En as jy ’n boer ken, sal jy weet dat jy sy diere so goed soos sy kinders moet behandel, anders is daar moei-likhied.

Wagner is die afgelope vier jaar ’n onderwy-seres by die Patensie Landbou Hoërskool, maar sy het dit nie aldag maklik gehad nie.

Sy het harde klippe gekou om te kom waar sy vandag is. Hoewel sy presies weet hoe swaarkry en teëspoed proe, spog Wagner vandag met haar B.Ed-graad (honeurs) van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) – al was dit by tye dol en is penne stukkend gekou van spanning.

“Ek is op my knieë dankbaar dat ek my universiteitsloopbaan suksesvol kon voltooi,” sê sy.

Die pad tot by haar gradeplegtigheid was egter nie ’n maklike een nie.

En beslis nie een waaroor dié kunstenaar as klein dogtertjie gedroom het nie.

Onderwys was nooit deel van haar lewensplan nie. Dit was iets wat jare later vir háár gekies het . . .

Wagner, voormalige eienaar van die bekende Salem-pottebakkery in die Vrystaat, en haar man, het in 1993 hul skaap- en beesplaas op Vredefort verkoop en na Humansdorp verhuis – slegs een jaar na hulle getroud is.

Niks kon haar vooraf op die besluit en veranderinge voorberei nie.

In plaas van ’n groener toekoms, het werkloosheid en armoede hulle vierkantig in die gesig gestaar.

Moed opgee was nie ’n opsie nie.

Met slegs ’n verweerde sambreel teen die bloedige son en reën, het die egpaar groente op die straathoeke van Humansdorp ver-koop.

“Dit was bloedsweet-jare,” sê Wagner.

Los werkies het sporadies oor haar pad gekom, en in 2003 sluit sy as Graad R-onderwyse-res by die Cockscomb Primêre Skool aan.

Wagner frons liggies: “Sonder die regte kwa-lifikasie, was die maandelike vergoeding skraps – slegs R500.”

Híér het oud-skoolhoof Sithelwa Maseti haar inspireer om verder te studeer.

Totale waansinnigheid op die ouderdom van 45, volgens Wagner wat in 2010 as ’n onderwys-student by Unisa aangesluit het.

“Ek kan nie eens beskryf hoe moeilik dit was nie . . . Dit vat harde werk en toewyding om ’n graad klaar te maak, veral as jy nie meer jonk is nie,” sê Wagner wat slegs saans kon studeer.

Deur die dag het sy steeds skool gegee, en tussen deur koeke vir ’n ekstra inkomste verkoop.

Die harde werk en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp en sy het haar B.Ed-graad in 2015 verwerf.

In 2016 sluit sy as onderwyseres by die Patensie Landbou Hoërskool, voorheen bekend as die Patensie Senior Sekondêre Skool, aan waar sy Lanbou Bestuurpraktyk vir Graad 10 tot 12 leerders gee.

Dié vak sluit beide teorie en prakties in: onder meer hoe om ’n koei te melk en die aanlê van ’n groentetuin. Asook die ver-koop van groente. Die skool spog tans met wortels, blomkool, kool, spinasie en uie.

Drie jaar later verwerf sy haar B.Ed-graad (honeurs), onder aanmoediging van haar seun, Jaco Wagner (23), wat verlede jaar sy B.Ed-graad voltooi het.

Vandag verruil Wagner, wat onlangs na Hankey verhuis het, haar beroep vir geen ander nie.

En haar doktorsgraad?

“Ek het nou vir eers klaar studeer,” sê sy.

Sy hoop dat ander inspirasie uit haar storie kan put en besef wat met harde werk verrig kan word.

“Jy is nooit te oud om te leer of om jou drome te bereik nie,” sê Wagner wat glo dat met deursettingsvermoë, harde werk en iemand wat in jou glo, enigeen hul grootste droom kan bewaarheid.

“Geleerdheid is die sleutel tot jou sukses.”

You need to be Logged In to leave a comment.