DIS nie ’n plek waar ’n mens kan aanklop en sonder meer kan vertrek nie. Lank nadat jy by die huis aangekom het, kuier die beelde van kranse en berge wat jou toevou nog in jou gedagtes en hunker jy weer na wat vir jou so aangrypend was en jou so vasgevang het.
Die Luiperdroete staan nog in sy kinderskoene, skaars drie jaar oud, maar mense praat reeds in dieselfde asem daarvan as die Otter of die Vis-rivier Canyon.
Dit is ’n ongerepte roete met pragtige uitsigte. Die stiltes is rustig op die gees en die son se spieëling teen die kenmerkende kranse is onbe-skryflik pragtig.
Die roete begin (en eindig) by die Cedar Falls-basiskamp in die Baviaanskloof-natuurreservaat, sowat 55 km suidwes van Willowmore. Buiten vir die gerieflike kombuis en twee badkamers, het die basiskamp slaapplek vir 12 mense – die maksimum getal stappers wat op een slag op die roete toegelaat word. Dit is die laaste bed wat jy vir ’n paar dae gaan sien. Daar is ’n plan om in die langtermyn hutte op die staproete te bou, maar vir nou moet jy nog jou eie tent saambring om saans in te slaap langs die pad.
Jy hoef gelukkig nie die tent saam te dra nie, want jou kos en ander pakkaas wat jy nie wil saamdra nie word saam met die tente na elk van die drie oornagplekke aangery. Al wat hy hoef saam te dra, is jou dag se kos en water. Ook elke aand se vleis en drinkgoed word in gemerkte houers in ’n vrieskas gebêre en by die kampplek afgelewer.
Dag 1 – Hallo Gabriël
Die eerste dag se roete is betreklik maklik, maar ’n mens stap jouself behoorlik wakker teen die Kickstart-bult, wat jou asem ’n bietjie sal laat jaag tot jy die plato bereik.
Hiervandaan strek die roete vir ’n bietjie meer as 9 km tot by die eerste kampplek. Feitlik die hele roete loop in ’n vallei.
Sowat 5 km van die beginpunt af lê die graf van Gabriël Jakobus Pe-trus van Jaarsveld by ’n murasie en draai die roete by ’n kloof met styl kranse aan weerskante in. Hier is ’n heerlike rusplek by ’n paar poele, wat na die einste Gabriël genoem is. Hy het glo tot met sy dood in 1926 in hierdie klofie geboer. Hier kan jy afkoel en ook weer jou waterbottel volmaak met vars bergwater. Dit is die enigste water op die eerste skof. Van hier af strek die roete in ’n vallei langs tot by die kampplek.
Daar is nie warmwatersilinders by die kampplek nie, maar die stortwater was verbasend warm, danksy die toevoerpyp wat in die son lê van waar dit uit die berg kom. Die maksimum dagtemperature wissel van gemiddeld 17 tot 28 °C deur die loop van die jaar en saans kan dit snerpend koud word. Die eerste dag van ons staptog was redelik warm, maar nie so erg soos die dae wat sou volg nie.
Elke kamp het ’n kombuistent met potte, panne en eetgerei en teen die tyd wanneer jy daar aankom, wag jou bagasie reeds op jou. Hier is ook heelwat vuurmaakhout vir braai en ’n geselsvuur.
Dag 2 – Klim, kyk en swem
Die tweede dag begin met ’n maklike paadjie langs die Reebokvallei, maar die maklike deel eindig skie-lik by ’n afdraai na ’n kloof wat lei na die Seder-uitkykpunt. Dit is sowat 400 m se klouter en klim oor groot rotse tot waar ’n klompie sederbome ’n onlangse brand hoog bokant die kloof-bodem vrygespring het. Hier kan jy ’n wyle vertoef om jou asem terug te kry.
Terug op die hoofroete begin ’n paar steiltes wat ’n mens behoorlik moeg maak tot by die bo-punt vanwaar jy die pragtige uitsig oor die Baviaanskloof-berge kan inneem.
Ná nog ’n erge steil afdraand is daar kans om ’n rukkie te vertoef by die Reflection Pools waar jy weer waterbottels kan volmaak en selfs ’n bietjie swem. Hierna volg ’n paar steiltes wat jou daaraan herinner dat jy in die ongerepte Baviaanskloof is. Sommige dele van die tweede dag se roete is redelik moeilik en wanneer ’n mens Labyrinth Hill bereik voel jou bene amper te moeg om die laaste twee bulte uit te klim tot by die tweede kamp.
Die kamp is teen die berghang en die kombuistent is effens verwyder van die afgebakende tentstaanplekke. Dié stort het net koue water.
Dag 3 – Bult op en bult af
Die derde dag is die langste en ook die moeilikste skof van die hele roete. Jy hoef nie ’n Comrades-atleet te wees nie, maar jy het darem ’n mate van fiksheid nodig. As jy moeg raak wanneer jy oor die lengte van die inkopiesentrum se parkeerterrein moet stap, gaan jy beslis hier swaarkry. Die helfte van die roete bestaan uit drie bulte wat jy moet uitklim en dan weer af aan die ander kant – Honeybush Hill, Inconvenient Truth en Ain’t So Bad. Elke steilte voel soos ’n ewigheid en aan die bopunte moet ’n mens eers asem skep voor jy weer die afdraand aan die ander kant versigtig aanpak.
Maak maar seker jy dra genoeg water saam, want daar is geen plek om water aan te vul op die eerste helfte van die dag se roete nie.
Wanneer ’n mens eindelik die bopunt van die Ain’t So Bad-saaltjie bereik het, begin die roete weer stadig afsak na Turning Point en lei die tweede deel van die roete jou na die pragtige 9 km-lange Kasey-kloof met foto-mooi kranse aan weerskante.
Hier stap ’n mens al langs die rivier en dis ’n goeie plek vir ’n blaaskans en om in die rivier se koue water te swem. ’n Brand het onlangs ’n groot deel van die kloof verwoes en terwyl die plantegroei nog herstel, is die koelte skraps. ’n Mens stap van die een skadukol na die volgende een.
Die tog in die kloof is redelik maklik, maar die eerste deel van die dag eis sy tol op jou bene en dit is met dankbaarheid dat ’n mens die derde kamp bereik. Die totale afstand van die derde dag is ongeveer 20 km en beproef stappers se vermoë.
Dié kamp is net so gerieflik soos die ander, ook met ’n toegeruste kombuistent met opwasgeriewe met lopende water. Die tentstaanplekke is ver van mekaar af, netjies gelyk en afgebaken met klippe.
Die looppaadjies word ook afgemerk en daar is moeite gedoen om die natuur te bewaar.
Alle vuilgoed en afval word weer saamgeneem wanneer die bagasie en toerusting die volgende dag opgelaai word.
Dag 4 – Nie vir sissies nie
Die laaste 12 km-lange skof begin met 4 km se gemaklike stap tussen die kranse in die Birdsong-vallei.
By die Fond Farewell-punt kom dié gemak egter tot ’n wrede einde en wag daar ’n hewige steilte op ’n mens.
Hierdie rotsagtige steilte is vir sommige stappers die moeilikste deel van die roete, maar ’n mens kan halfpad rus, van waar jy tot ver onder in die kloof kan sien.
Dan klim jy maar weer tot bo-op die berg en stap op die kruin langs tot jy begin daal tot in die Cauldron, ’n reeks van twee klein valleie.
Hierna volg ’n erg klipperige spoor teen die steiltes af na die vallei wat jou teruglei na die Cedar Falls-basiskamp.
Hoewel die laaste dag heelwat korter is as die derde dag, is dit nie veel makliker nie. Dit laat darem genoeg tyd om te ontspan voor die vuur vir die aand aangesteek word.
Dag 5 – Waterval toe
Van die basiskamp is daar ’n dagstap-roete deur die kloof aan die westekant van die kamp, na die na-bygeleë Ceder Falls-waterval.
Jy kan dié roete op sy eie aanpak óf as ’n vyfde dag van die Luiperd-roete.
Hier was duidelik onlangs ’n groot vloed en sommige van die aanwysingsbordjies is weg. Die gevolg is dat ’n mens maklik die verkeerde koers kan inslaan, maar as jy eers die regte roete gekry het en by die watervalpunt uitkom, word jy beloon met ’n heerlike swemplek.
- Bring ’n vriend: Die getal stappers op die roete word beperk tot ’n minimum van vier en ’n maksimum van 12.
- Kom enige tyd: Die roete is enige tyd van die jaar begaanbaar, maar hou in gedagte dat dit in ’n somerreënvalstreek lê en dat die winters baie koud kan raak.
- Hallo, hallo? Daar is geen selfoonontvangs op die roete nie. Jou iPhone gaan dus nutteloos wees, behalwe as jy dit as ’n kamera inspan.
- Kontak: 074 939 4395, gobaviaans.co.za/project/leopard-trail-reservations/
) Prys: R1 180 per persoon