Weldoener gee aan karwassers

NET voor die inperktyd in werking geskop het, het ’n goeie Samaritaan by ’n karwassery op Jeffreysbaai opgedaag, en die agt werkers ’n R1000 elk gegee.


NET voor die inperktyd in werking geskop het, het ’n goeie Samaritaan by ’n karwassery op Jeffreysbaai opgedaag, en die agt werkers ’n R1000 elk gegee.

Eienaar Richard Dickson skryf op sosiale media dat daar geen woorde is om sy dankbaarheid te beskryf nie. “My personeel is goeie mense wat uiters hard werk. Die nederige man se groot hart en goeie daad gee mense ’n geweldige hupstoot in ‘n moeilike tyd.

“My mense was in trane. Die hare op my nek het orent gestaan.”

Verskeie ander het die man se onbaatsugtige daad geprys. “’n Krisis wys die goeie (en slegte) in mense. Die lewe om ons gaan nooit weer dieselfde wees nie”, meen Margaret La-tegan.

Ene Koos van der Merwe sê: “Dít is hoe mens gee – daar waar geen kameras is of iemand dit deur die klowe laat eggo nie.”

Dit was die mooiste gebaar, sê Hannes Maartens. “Vir almal wat so negatief is, dit het my hoop gegee. Ek het gesien hoe die man met die werkers van die karwas praat, iets vir elkeen in die hand gee, omdraai en in ‘n voertuig klim met ‘n GP-registrasie.

“Toe ek met die eienaar gaan praat, staan almal in trane, en hy sê hy ken nie eers die man se naam nie.”

Maartens skryf ‘n bedanking aan die weldoener en vra verskoning namens mense wat negatiewe menings oor besoekers op sosiale media pos.

“Respek is wat ek vir die man het,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.