In haar tyd as persoonlike assistent en regterhand van oudpresident Lucas Mangope, het Wilna Moolman (80) ’n Russiese spioen ontduik, ’n huurmoordenaar ontmoet en met van die wêreld se bekendstes in aanraking gekom. Foto:MONIQUE BASSON


TEEN ’n berghang knus tussen landerye het sy vir haarself en haar hond ’n rustige tuiste ingerig.

Hier het Wilna Moolman (80) kom asemhaal nadat sy vir meer as ’n dekade lank oudpresident Lucas Mangope se persoonlike assistent en regterhand was.

“Ek is eintlik ’n nederige plaasmeisie en het soms die rustigheid nodig,” gesels sy in die leefvertrek van die gemaklike huis in Melon waar sy vier jaar gelede ingetrek het.

Terug op die Moolman-familieplaas van haar grootwordjare.

Oral teen die mure pryk foto’s uit die tien warreljare saam met Mangope waarin sy van wêreldleiers, soos die voormalige Suid-Afrikaanse Minister van Buitelandse Sake, Pik Botha, tot sterre, soos Michael Jackson, ontmoet het.

Dáár is sy saam met Mangope by sy dogter se gradeplegtigheid. En hiér is ’n reeks kiekies van hulle by verskillende glansgeleenthede: Mej. Wêreld, Mej. Suid-Afrika, die opening van Sun City en verskeie gholftoernooie.

Hy altyd baie ernstig.

Op nog ’n foto is ’n Russiese spioen, Shabtai Kalamonowiz.

Van die huurmoordenaar wat sy ontmoet het, het sy liefs nie ’n foto geneem nie.

Presidensie

“Ek het melktert gemaak,” sê Moolman, terwyl sy die goue vurkies en fyn teekoppies regskuif – ’n verjaardaggeskenk van haar ma in 1982. Die teepot is ’n erfstuk wat sy by ’n jarelange vriend gekry het.

Sy beduie met haar hande in die lug: “Alles in my huis vertel ’n storie . . . van my kinderjare tot die ongelooflike lewe wat ek gehad het.”

Moolman het in Melon grootgeword.

“Ek het nie eens geweet van Mangope nie – die president van Bophuthatswana vanaf 1977 tot die staatsgreep in 1994.”

Sy het ná haar skoolloopbaan by die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp ’n kursus in sekretariële werk voltooi, en kort daarna as ’n persoonlike assistent by die Rooikruis Oos-Kaap aangesluit.

Sy het in 1981 by die Presidensie in Bophuthatswana as die president se persoonlike assistent begin werk nadat ’n vriendin en voormalige presidensiële-assistent haar vir die pos aanbeveel het.

En hoewel die stres en druk groot was, veral met die kultuur- en taalverskille, het dié fyngeboude en professionele vrou haar nie laat onderkry nie – sommige het haar ’n sersant-majoor genoem.

Hoekom?

Want niemand kom naby die president sonder ’n afspraak nie, ongeag hul titel.

Wilna Moolman geniet elke oggend ’n koppie tee onder die boom voor haar huis in Melon – altyd uit ’n teepot en met warm melk. Haar hond, Jakkals, is altyd by haar. Foto: MONIQUE BASSON

Groot taak

Verantwoordelik vir die finansiële bestuur van die presidensiële huis, onthaalwerk en die koördinering van vergaderings en besoeke, het Moolman vir Mangope in al sy fasette leer ken – veral as ’n gelowige man wat toegewy was aan die land se politiek en ekonomie.

“Selfs tot op die laaste, voor hy in Maart 1994 onttroon is, het hy nie vir een oomblik rustiger geword nie – hy het niemand ooit weggewys nie, ongeag die tyd,” sê sy.

“Mangope was ’n vreeslose, maar regverdige, man. Hy was bang vir niks en niemand.”

En baie spaarsamig.

“Die gordyne in die een lokaal was vir my die lelikste gordyne ooit,” vertel Moolman. “Dit het ses jaar gevat voor ek die gordyne kon vervang – daar was net nie geld om te mors nie.

“Hy het ook baie eenvoudig geëet en glad nie drank gebruik nie.”

En dan was daar sy beesplaas.

“Ek moes vinnig meer van beeste leer,” lag Moolman. “Mangope was later so beïndruk met my kennis, dat ek veilings namens hom bygewoon het.”

Behalwe vir talle spoggeleent-hede en verskeie liefdadigheidsprojekte op haar kerfstok, het sy oor die jare met die wêreld se bekendstes in aanraking gekom: Pik Botha, voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur Willem Kotzé, spioen Shabtai Kalamonowiz, voormalige prins van Liechtenstein Hans-Adam II, rykste man in die wêreld (daardie tyd) Adjan Kagoshi en Michael Jackson.

Teen die muur pryk ’n foto van Wilna Moolman se oupa, Johannes Moolman, en ouma, Cornelia Willemiena.Foto: VERSKAF

Altyd gereed

Moolman, die ma van twee kinders, was jare gelede getroud, maar toe sy vir Mangope begin werk, het haar toewyding aan hom haar so besig gehou dat haar huwelik skipbreuk gely het.

En dis ook maar goed, reken sy vandag: “Jy moet ten alle tye be-skikbaar wees.”

Dié dat haar oornag-tas altyd gepak was – reg vir gryp.

Na 1994 het Moolman by advokaat Johan Smit gaan werk, die voormalige prokureur-generaal van Bophuthatswana, en toe in 1998 afgetree.

In haar vrye tyd het sy die wêreld platgereis: Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mauritius, Swaziland, Maseru, Lesotho, Engeland, Israel, Spanje, Holland, België, Italië, Duitsland, Egipte en Argentinië.

Dekades later

Nou, meer as 26 jaar later, mis sy Mangope steeds.

“Dit was ’n voorreg om iemand soos hy te ken,” sê Moolman terwyl sy in haar grendeltyd-boks krap – ’n boks vol sorgvuldige notas en foto’s van haar ‘manewales’ sedert die nasionale staat van inperking in Maart, vanjaar.

Van danspassies tot ’n driegangmaaltyd by kerslig. En deftige uitrustings vir aanlyn-kerk.

Sy sny ook gras, snoei bome en doen algemene tuinwerk.

Moolman kyk deur die venster tot in die verte waar wit huise spikkels teen die vars omgedolwe landerye is: “Ek gaan die boks op my solder bêre, en wanneer my agterkleinkinders dit oor 100 jaar ontdek, kan hulle ’n mooi storie daar-oor skryf.”

Geloof

Sy is gelukkig met haar lewe.

“Ek is oor niks spyt nie,” sê Moolman wie se onwrikbare geloof die goue draad is wat deur haar lewe loop.

“Ek het ’n ongelooflike lewe gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.