NÁ 1 500 km op ’n fiets se saal is Jakkie van der Colff se grootste wens dat hy die wind in een van sy fietstasse kan vasvang en wegbêre.
Dit sou sy fietstoer van 2 700 km soveel makliker gemaak het, sê die 77-jarige Van der Colff en voeg by dat die sterk wind van voor tussen Kroonstad en Port Elizabeth tot dusver sy enigste “teenspoed” was.
Hy het op 17 Augustus by die Voortrekkermonument in Pretoria weg-getrek en so man alleen op sy fiets ry hy deur die land om mense bewus te maak van die Voortrekkerbeweging.
Hy beoog om op 21 September by die Taalmonument in die Paarl klaar te maak.
“En soos ek nou voel, sal ek al die pad weer op my fiets terugry, want dan sal die wind sekerlik van agter wees,” skerts Van der Colff.
Die fietsry-gogga het hom eers in 2012 gebyt toe hy na ’n uitdaging gesoek het om sy depressie te beveg.
Eers het hy die land platgery om homself beter te laat voel, maar kort daarna het hy begin beplan aan ’n jaarlikse fietstoer met ’n doel.
Vanjaar het hy die speke laat sing om die Voortrekkerbeweging se lied in minstens 50 dorpe oor ses provinsies te laat hoor.
“Ek is jammer dat ek nooit ’n Voortrekker was nie, want wat ek van die Voortrekkers geleer het, het my aangenaam verras.
“Dit is ’n dinamiese, moderne beweging.
“Dit maak van gewone kinders besonderse jong leiers wat ander dien.”
Met sy fietstoer besoek Van der Colff bestaande Voortrekker-kommando’s en hy maak seker dat dorpe wat nie ’n Voortrekker-kommando het nie, besef waarop hulle uitmis.
“Ek praat met skole en vertel hulle meer oor die Voortrekkers en hoekom die kinders daarby sal baat vind. Só hoop ons om die bewusmaking te vergroot.”
Volgens hom het dié projek juis tot ’n nuwe Voortrekker-kommando in Graaff-Reinet gelei.
Van der Colff samel ook geld in vir diegene wat graag deel van die beweging wil wees, maar dit nie kan bekostig nie.
“Ek hoop maar die mense se broeksakke sit vlak en hul arms is diep wanneer hulle geld skenk, want kinders wat nie deel van die beweging is nie, is soveel armer as dié wat wel betrokke is.”
Met net minder as die helfte van die roete om te voltooi, sien Van der Colff daarna uit om ’n deel van die roete saam met sy seun en kleinseun in Knysna te ry, voordat hy die laaste paar dae na die eindstreep sal aanpak.
Van der Colff het verlede Donderdag in Patensie aangekom en Vrydag uit Patensie na Plettenbergbaai die speke laat sing.